Gennavieve van der Merwe (33).Foto: Verskaf


Was ’n Plattekloofse gesin wat die erge aanranding van ’n tienermeisie langs die pad tussen Hopefield en Malmesbury aanskou het dalk die laaste keer dat sy lewend gesien is?

Dít is van die vrae waarmee Gennavieve van der Merwe (33) in die nanag worstel nadat sy en haar man, Gavin (35), en hul vierjarige dogtertjie Sondag 18 Junie ’n vreesaanjaende jaagtog moes deurmaak om van ’n groep mans in ’n motor te vlug.

Gennavieve het aan Weslander vertel dat haar man, Gavin, in ’n stadium vir haar gesê het dat hulle 160 km/h ry soos hy probeer het om die motor af te skud. Hulle het in ’n Ford Figo gery.

Die Van der Merwe-egpaar en hul vierjarige kind was net ná 15:30 die middag onderweg op die R45 tussen Hopefield en Malmesbury, net voor die windturbines. Hulle het ’n wit Peugeot met ’n Kaapse registrasienommer voor hulle sien ry wat skielik langs die pad stilgehou het.

Die egpaar het gesien hoe ’n man ’n tienermeisie by die motor uitgooi. “Toe sien ons hoe slaan hy haar orals op haar lyf met die vuiste en skop haar ook. Hy het haar regtig erg aangerand.”

Gavin het vir die man toeter gedruk terwyl hulle verbyry sodat die man moet ophou, waarop die mans die kind weer in die motor geboender het.

Die egpaar het ’n ent vorentoe langs die pad stilgehou waarop Gennavieve die Hopefield-polisie gebel het. Sy het ’n beskrywing van die motor gegee en ook presies waar dit stilgehou het.

Terwyl sy nog met die sersant op die foon was, het die mans weer begin ry en hulle verbygesteek, waarop Gennavieve die registrasienommer ook aan die polisie deurgegee het. Dit was ’n CA-nommer. “Ons het hulle begin volg, nie te naby nie, maar net so ver dat ons sal kan sien as hulle iewers afdraai.”

Gennavieve vertel dat sy sowat tien minute gewag het voordat sy weer die Hopefield-polisie gebel het om te hoor waar hulle was. Hulle het weer die mans in die motor verbygesteek.

Die volgende oomblik was die motor met flitsende ligte agter hulle en het hulle Gavin probeer intimideer om langs die pad stil te hou.

“Toe ons weer sien toe ry ons 160 kilometer per uur.” Gennavieve weet nie hoe Gavin kopgehou het deur die hele jaagtog nie, maar skryf dit toe aan die feit dat hy level headed is.

Gennavieve, wat nog steeds met die polisie op die foon was, het hierop vir die sersant gesê dat hulle te bang is om af te trek, want hulle weet nie of die mans dalk gewapen is nie. “Ek was vrek bang,” erken Gennavieve sommer ruiterlik. “Hulle kon duidelik sien dat ek op die foon was, want ek het agter gesit.”

Die sersant het hierop gesê dat hy sal uitvind waar die patrolliemotor wat uitgestuur is, trek. Gennavieve het aan hom verduidelik dat hulle op daardie oomblik verby ’n bordjie is wat aandui dat hulle 30 km van Malmesbury af is. Hy het hierop gesê dat hy gou Malmesbury-polisie gaan verwittig.

Toe niks verder gebeur nie, het Genevieve om 16:10 die Malmesbury-polisie gebel wat haar ingelig het dat hulle nie weet van die situasie nie.

Sy het hierna onverpoosd probeer om weer met Hopefield-polisie in verbinding te tree, en later maar die polisie op Saldanha gebel.

Hulle lig haar toe in dat dit op daardie tydstip beurtkrag in Hopefield was, wat beteken het dat die polisie se foon onbruikbaar was. Ook dat die meeste polisiebeamptes by ’n reuse-ongelukstoneel in die dorp besig was.

Dié polisiebeampte het gesê dat sy die volgende dag na “die kameras sou kyk of sy iets kan wysraak”.

Gennavieve is bekommerd dat dit dalk te laat is vir die tienermeisie. “Enigiets kon intussen met daai dogtertjie gebeur het, en ons het al die nodige inligting vir die polisie op ’n silwer skinkbord gegee. Ons het gedink hulle sal iets doen.”

Sy voel teleurgesteld en is in haar hart oortuig daarvan dat die polisie die motor betyds sou kon voorkeer en dalk die kind na veiligheid sou kon bring. “Ek bid dat daai kind oukeiis.”

Kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het in reaksie op die voorval gesê dat dit in sulke gevalle die beste is om na die naaste polisiekantoor te ry en die voorval daar aan te meld. Sy het benadruk dat die polisie nie die saak verder sal kan ondersoek tensy die voorval amptelik by die polisiekantoor aangemeld word nie.

Gennavieve meen dat dit prakties onmoontlik vir hulle was om dié betrokke dag na die naaste polisiekantoor te ry met hul vierjarige dogtertjie by hulle.

“Ons wou nie haar lewe in gevaar stel nie.”

Sy het Dinsdag ’n klagte by die Wes-Kaapse polisie-ombudsman aangemeld.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article