Is persvryheid in die gedrang?

Dié onderwerp het onlangs weer aandag geniet in die lig van Wêreldpersvryheidsdag, wat op 3 Mei gevier is. Hoewel die joernalistiek vandag deur meer uitdagings as ooit tevore in die gesig gestaar word, was die media se uitsluitlike doel nog altyd om ’n stem aan die stemloses te gee, onreg in gemeenskappe uit te lig en mense verantwoordbaar te hou.

Tog lyk dit asof die media eerder die vyand geword het en byna verantwoordelik gehou word vir ander se dade wanneer verslaggewers bloot daaroor berig.

Wanneer ons oor ’n voorval berig, kan ons lesers vir seker weet dat ons elke moontlike manier probeer het om direk met die bron, of in die geval waar iemand oorlede is, met die naastes, kontak te maak om juis feitelike beriggewing te verseker – dit dikwels ten spyte daarvan dat talle, insluitend die polisie, ons probeer muilband wanneer ons feite nagaan.

Henriëtte Loubser, hoofredakteur van Netwerk24, die nuuswebwerf van Media24 waarop Weslander se nuus en e-publikasie ook beskikbaar is, skryf ook onlangs in ’n meningstuk juis oor dié hedendaagse tendens om joernaliste persoonlik op sosiale media oor beriggewing te teiken – dit ten spyte van ’n lang proses waaraan berigte onderworpe is voordat dit uiteindelik gepubliseer kan word. Sy maak die volgende belangrike stelling: “Joernaliste doen net hul werk. Geen individu – van redakteurs tot leerlingverslaggewers – gaan sommer deur hierdie redaksionele muur van verantwoordbaarheid breek om persoonlike vendettas te voer nie.”

Die volledige meningstuk is beskikbaar by https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/redakteur-se-brief-ja-regtig-joernaliste-doen-net-hul-werk-20230502

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article