Saldanha Animal Care (Sac) het dringend die hulp van die gemeenskap nodig.
Om kop bo water te hou in vandag se tyd is moeilik vir almal, en hierdie dierewelsynorganisasie is geen uitsondering nie.
Volgens die Zanette Kellerman, voorsitter van Sac is bevind dat ’n troeteldier 78% van die tyd die een sal wees wat jou tuis verwelkom. Vandag huisves Sac 60 honde.
Kellerman sê Covid-19 en die toemaak van Saldanha Staal het ’n geweldige finansiële impak op Sac gehad. Die koste om die 60 honde te voer beloop R11 800 per maand. Dit sluit nie veeartskoste, salarisse, brandstof en boumateriaal in nie.
As hulle egter nie dringend hulp kry nie, sal Sac moontlik iets van die verlede wees.
Sy wil ook aan elke persoon dankie sê vir hul bydrae en ondersteuning, maak nie saak hoe klein nie.
Kellerman het dit baie duidelik gemaak dat sonder die gemeenskap se hulp Sac se hande afgesny is. Om nog ’n poging aan te wend ten bate van Sac word ’n Vonkel-oggend met die bekende sanger Nadine en musiekkunstenaar Just Adrian op Saterdag 12 Augustus by Boesmanland Plaaskombuis gehou. Dit begin om 09:00 en duur tot 12:00.
Kaartjies kos R250 per persoon. Dit sluit in ontbyt, wynproe, gelukstrekkings en meer.
Om jou kaartjies te bespreek kontak Rudi of Ciska by 083 530 4083.




