Hoe herbou ’n mens jou lewe sonder jou kinders?
Só vra ’n verpletterde Porterville-ma, Ester Schreuder.
Haar dogter Andreah Schreuder (13) het die stryd teen sekelselanemie op Vrydag 9 Junie in Tygerberg-hospitaal verloor. Hoewel haar ma sê die dokters het hulle voorberei, was dit nie baie maklik om te hoor hul dogtertjie sal nie weer huis toe kom nie.
Ester het aan Weslander vertel dat die siekte op die ouderdom van twee jaar by Andreah gediagnoseer. “Dit het begin met ’n verkoue wat nie wou verdwyn nie. Toe ons die diagnose hoor, en die feit dat dit ’n vreemde woord vir ons was, het ek dadelik gedink aan kanker omdat ek te min inligting daaroor gehad het,” vertel Ester.
Sy moes haarself meer kundig maak oor die siekte. “Hoe meer ek opgelees het daaroor en vrae gevra het, hoe beter het ek verstaan en so het die aanvanklike vrees ’n bietjie minder geword. Ek dink dit was die onbekende wat ons bang gemaak het.”
Sekelselanemie is een van ’n groep oorgeërfde afwykings bekend as sekelselsiekte. Dit beïnvloed die vorm van rooibloedselle, wat suurstof na alle dele van die liggaam vervoer.
Die oggend van Saterdag 6 Mei het Ester besef dat daar fout is en Andreah is weer in die hospitaal opgeneem. Sy het ’n noodbloedoortapping ondergaan, maar weens die erns van die sekelselanemie het Andreah ’n breinstam-beroerte gekry.
“Ons het geglo sy gaan beter word. Maar aan die einde kon ek sien dat sy nie meer haarself was nie.”
Hoop en geloof is al wat die Schreuder-familie deur die moeilike tyd gedra het. Die gesin het omtrent vyf jaar terug ook hul seun, Ashwell jr., op vyfjarige ouderdom in ’n tref-en-trapongeluk voor die gesin se huis verloor.
Ester glo vas dis nie ’n pad wat ’n mens sonder geloof kan stap nie. “Praat openlik met die diegene wat jy kan vertrou, want ’n mens het ondersteuning nodig. Moet nooit jou geloof verloor nie.”





