Wyle Stephan Shepherd (links) saam met sy ouer broer, Rudolph, by Graze Eatery.


Nie alle families kan saam werk en speel nie, maar vir Stephan en Rudolph Shepherd van Graze Eatery in Vredenburg was dit ’n ware vennootskap.

Stephan (33) is Sondag (2 Julie) onverwags oorlede toe hy in Trekoskraal, naby Paternoster, gekuier het. Volgens Rudolf was sy jonger broer uit vir die dag en het vis gaan vang toe hy ’n pyn in sy agterkop gekry het. Hy is kort daarna oorlede. Hoewel die oorsaak van Stephan se dood nog nie bevestig is nie, is die vermoede dat hy ’n aneurisme gehad het.

Die broers het in ’n huis grootgeword waar albei hul ouers gehou het van kos maak en dié gogga die broers ook vroeg gebyt het. “Ek het in 2007 my restaurant begin en hy het vir die vakansie by my gewerk. Dit was ná skool, toe hy 18 jaar oud was, en hy het toe net nooit gegaan nie,” vertel Rudolph.

Hy sê sy broer het vinnig agtergekom hy hou meer van agter die skerm werk en besluit die kombuis is sy domein.

“Stephan was beslis ’n introvert, maar hy was ’n raakvatter. Hy het hard gewerk en was ’n rolmodel vir ons werkers. Nederig en betroubaar is hoe ek hom sal onthou,” meen Rudolph.

Stephan en sy verloofde, Jacky Pretorius, het vyf maande gelede hul eersteling verwelkom. Rudolph sê sy broer en Pretorius was “ ’n match made in heaven”.

Medelye vir die familie en die personeel van Graze Eatery stroom in sedert nuus oor die jonger Shepherd-broer se dood. Stephan word komende Saterdag (8 Julie) vanuit die NG Moedergemeente in Vredenburg te ruste gelê. Die diens begin om 11:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article