Verskeie huisrooftogte is die afgelope tyd by die polisie in die Weskus-polisiedistrik aangemeld.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het ’n 23-jarige rower Saterdag 1 Julie ’n 66-jarige vrou in haar huis in Langebaan oorval en met ’n hamer gedreig.

Sam Makwenha het na bewering ’n venster gebreek om toegang tot die huis te verkry en het onder meer ringe, ’n horlosie en geldnote van die vrou geroof. Makwenha het Maandag in die Hopefield-landdroshof verskyn op aanklag van huisroof.

Op Vrydag 23 Junie is Megan Carolus (35), ’n voormalige huiswerker van ’n 73-jarige man van Sterrezight, Vredenburg, in hegtenis geneem nadat sy en twee mans die vorige dag die bejaarde beroof het.

Helfrich het gesê dat die rowers om 07:30 na die klaer se huis gegaan het en omdat die slagoffer haar ken, het hy hulle in sy huis toegelaat.

Een van die rowers het die bejaarde se selfoon gegryp en toe die bejaarde dit wou terugvat, is hy met ’n mes in die arm gesteek.

Die rowers het van die toneel gevlug met die klaer se foon en R50. Carolus is later in hegtenis geneem en het Maandag 26 Junie in die Vredenburgse landdroshof verskyn.

In nog ’n voorval het ’n geluid ’n 16-jarige meisie Saterdagnag 24 Junie omstreeks 03:00 in ’n huis in Mikastraat, Ongegund, wakkergemaak waarop sy ’n man gesien het wat ’n TV-stel na die deur toe dra.

Met die aansit van die ligte het sy drie mans geklee in swart klere en met bedekte gesigte in die huis gesien.

Een van die mans het ’n vuurwapen op haar gerig en selfone en geld geëis. Die verdagtes het met die TV-stel, ’n selfoon en ’n beursie gevlug. Niemand is weens die voorval in hegtenis geneem nie.

Terwyl ’n 67-jarige man van Malmesbury dieselfde dag om 23:45 op sy bed in sy huis in Nonkqubelastraat gesit het, het ’n rower die huis binnegekom en die man met ’n mes gedreig. Hy is van sy selfoon en beursie beroof.

Helfrich het benadruk dat daar al verskeie sake van rooftogte by huise van 1 Junie tot nou aangemeld is. “As jy iemand in jou huis gewaar, moenie jou teësit of ’n held probeer wees nie, want jy weet nie waarmee die rower gewapen is nie. Bly te alle tye kalm en gee hom/haar wat gevra word.”

Sy raai lesers ook aan om nie groot bedrae kontant by die huis te bêre nie.

“Dit is baie duidelik dat rowers veral hul aandag op selfone vestig en jou lewe is baie meer werd as ’n selfoon. Gee dus maar eerder jou foon vir die rowers.”

Sy gee ook die volgende wenke:

Maak gereeld seker dat al jou vensters, diefwering en veiligheidshekke behoorlik oop en toe kan maak en dat alle slotte in ’n werkende toestand is. Maak seker dat hekke te alle tye gesluit is en dat die sleutels nie maklik bereik kan word nie en nie rondlê nie. Veiligheidshekke met stewige slotte voor elke buitedeur asook diefwering wat alle vensters bedek, word aanbeveel.

Toets gereeld jou alarmstelsel wat verkieslik aan ’n gewapendereaksie-maatskappy gekoppel is.

Laat jou hond in die huis slaap. Sorg vir ’n hoë heining om die huis met sluitbare hekke sodat toegang bemoeilik word en honde vrylik om die huis kan beweeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article