Vandeesweek het talle plaaslike individue en besighede na minderbevoorregtes uitgereik.
Ja, Mandeladag het baie aandag gekry en weldoeners het met oorgawe gevoed en hul bes gedoen om die minderbevoorregtes te help.
Maar is hierdie massa-liefdadigheidshisterie net een dag van die jaar nodig? Vir baie het dit net ’n openbare betrekkinge-oefening geword.
Dit is egter goed om te sien hoe die gemeenskap saamwerk om die las van ellende waarin so baie leef, te verlig. So hoekom daar stop?
’n Mens kan maar net hoop dat diegene wat enige welwillendheid in hulle het, eerder hul liefdadigheidspogings deur die jaar sal versprei, en miskien elke dag ’n Mandeladag sal maak.
Neem ’n ouma aan, voed die hongeres, gee jou ongewenste goedere aan behoeftiges. Gee ’n blikkie troeteldierkos vir jou plaaslike DBV, of glimlag selfs net en groet jou medemens wanneer jy in die straat stap.
Die lys is eindeloos en hierdie klein gebare kan sekerlik meer gereeld gedoen word om ’n verskil te maak in die lewe van behoeftiges rondom ons.




