Plase aan die Weskus het die afgelope maand onder verskeie vee- en ander diefstal deurgeloop.Foto: Ter illustrasie/Weslander-argief


’n Boer van Malmesbury het Dinsdagnag 25 Julie wakker geskrik van die skel geloei van die alarm by sy vee­kraal.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die 54-jarige boer gaan ondersoek instel en agtergekom dat 41 van sy merino-skape ter waarde van R123 000 gesteel is. Dit moes tussen 01:00 en 07:30 Dinsdag 25 Julie gebeur het.

Ander Weskusboere het ook in Julie onder veediefstalle deurgeloop.

’n Boer (65) van Piketberg was drie keer die teiken van veediewe wat die nag van 30 Junie en 1 Julie ’n dorper-skaap ter waarde van R3 000 en die nag van 15 en 16 Julie ’n Meatmaster- en nog ’n dorper-skaap ter waarde van R4 500 gesteel het. Op 11 Julie is ’n skaapooi ter waarde van R2 500 gesteel.

Tussen Donderdag 13 Julie om 17:00 en Vrydag 14 Julie om 08:30 het ’n 57-jarige boer van Lutzville op een van sy bokooie in die kraal afgekom wat reeds geslag was. Dié ooi was dragtig met ’n tweeling.

Polisiereserviste het Sondag 16 Julie ’n 69-jarige boer van Eendekuil laat weet hulle het twee vermeende veediewe met ’n sak vol vleis van ’n geslagte skaap betrap. Die verdagtes het gevlug. Die boer het gaan ondersoek instel en agtergekom een van sy skape is tussen 14 en 16 Julie gesteel.

In Piketberg het ’n 42-jarige boer agtergekom dat van sy hoenders, skape en varke van Maart tot Vrydag 28 Julie gesteel is.

Die boer het ’n werker, die vermeende dief, gevra om sy plaas te verlaat. Die vermeende veedief het toe wel ’n vark teruggebring, maar net om later weer twee skape te steel.

Die polisie ondersoek die saak.

In Darling is R12 000 se skape van ’n plaas in die omgewing gesteel. Die 75-jarige boer het dit Maandag 24 Julie ontdek en boonop op ’n vars geslagte skaapkop afgekom.

Twee skape is ook tussen 24 en 25 Julie by ’n plaas in die Citrusdal-omgewing gesteel.

Helfrich het ook gesê plase het in Julie gebuk gegaan onder ander soort diefstalle, soos die R1 500 se rooipeper (cayenne) wat Saterdag 1 Julie op ’n plaas by Klawer gesteel is. Twee verdagtes is in hegtenis geneem oor die sowat 10 kg rooipeper. Hulle het reeds in die Klawer-landdroshof verskyn.

In Malmesbury is ’n 20-jarige verdagte op ’n plaas in hegtenis geneem nadat sowat R600 se tamaties gesteel is.

Tussen 27 en 29 Julie is altesaam R33 000 se gereedskap by ’n plaas in die Graafwater-omgewing gesteel.

’n Byeboer van dieselfde omgewing het in dieselfde tyd ’n klagte by die polisie aangemeld nadat ongeveer R500 se heuning gesteel is. Die byekorf het stukkend op die grond gelê en die super-kompartement, waarin die werkerbye die surplus heuning en stuifmeel berg, is gesteel.

Nog skade aan byekorwe is ook op ’n plaas in Eendekuil ervaar nadat vandale sowat R2 000 se skade aangerig het.

In Citrusdal is R250 se nartjies op ’n plaas gesteel en R100 se lemoene in Lutzville.

In Vredendal is ’n 42-jarige verdagte in hegtenis geneem weens die diefstal van 22 komkommers van R264.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article