Velddrif het Saterdag op sy tuisveld met aanvallende spel in sy wedstryd teen Saldanha genoeg gedoen om die stryd te wen.Foto: Noluvu Ludidi


Velddrif het Saterdag op sy tuisveld gewys dat sy oorwinning verlede week oor St. Helenabaai geen gelukskoot was nie toe die span die verdedigende Boland-kampioen in Velddrif bloedneus geslaan het.

Velddrif se oorwinning van 23-14, nadat die tuisspan rustyd 5-0 voor was, het ook die deur wawyd oopgegooi vir enige van die vier voorste spanne om as Weskus-kampioen gekroon te word. Slegs nege punte skei nou die voorste vier spanne, met Mamre en Paternoster wat een wedstryd minder gespeel het.

Saldanha, wat eers ná meer as 50 minute op die telbord kon kom, het verskeie kanse verbrou om punte aan te teken. Velddrif se hardnekkige verdediging het die kampioen op die agtervoet gehou.

Met 20 minute se speeltyd oor was Saldanha nog 14-11 voor, maar hy het nie rekening gehou met die tuisspan se veggees en wil om te wen nie. Die tuisspan het met nog ’n onverdoelde drie weer sy neus met twee punte voor gekry en met die wedstryd wat nog enige kant toe kon swaai, het die tuisspan die wedstryd met drie minute oor met ’n verdoelde drie verseël.

Velddrif se veldtog het ook hulp uit ’n ander wedstryd gekry toe St. Helenabaai in ’n wegwedstryd teen Paternoster genoeg gedoen het om die stryd 13-12 te wen om weer momentum te kry.

Mamre het ook sy posisie verstewig toe die troepe van Kenny Stadler Langebaan op dié se tuisveld geklop het.

Mamre het danksy Paternoster se nederlaag nou die tweede plek op die punteleer ingeneem en is met ’n wedstryd minder nou ses punte agter Saldanha, terwyl Paternoster derde en Velddrif in die vierde plek is. Die wedstryd tussen Young Hearts en Vredenburg se Burg Boys is weens nat toestande afgelas.

Die punteleer kan die naweek weer verander wanneer die voorste vier spanne mekaar pak. Saldanha sal op sy tuisveld probeer vergoed wanneer hy Paternoster onthaal. Mamre sal op sy beurt Velddrif, wat tans stert in die lug is, onthaal.

St. Helenabaai, wat nog ’n wiskundige kans het, sal Young Hearts onthaal in ’n moet-wen-wedstryd vir beide spanne.


Volledige Weskus-uitslae: Velddrif 23-14 Saldanha, Mamre 19-14 Langebaan, Paternoster 12-13 St. Helenabaai en Koringberg 15-38 Hopefield.

Swartland: Abbotsdale 35-34 Saron, Riebeeck United 17-17 Porterville, Never Despairs 52-0 Villagers Wittewater, Moorreesburg 26-27 Darling en Goodhopes 5-15 Wesbank.

Naweekprogram: Vredenburg t. Piketberg, St. Helena t. Young Hearts, Saldanha t. Paternoster, Mamre t. Velddrif en Hopefield t. Langebaan. Koringberg geniet ’n loslootjie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article