Saldanha het Saterdag op die grafkelder talle harte gebreek.
Die verdedigende Boland-kampioen het in die laaste minuut die grafkelder doodstil gehad toe die span teen die verloop van spel die wendrie gedruk en ook ’n bonuspunt behaal het.
Die kampioen het die wedstryd 31-23 gewen nadat hy rustyd reeds 17-6 voor was. Saldanha het die tuisspan egter in die eerste 20 minute van die wedstryd op die agtervoet gehou. Young Hearts, wat vroeg in die wedstryd met 14 man oor die weg moes kom, het rotsvas verdedig en die kampioen moes met krummels tevrede wees.
Saldanha het egter meer as genoeg balbesit en gebiedsvoordeel geniet, maar ’n gebrek aan afronding het gelol. Die wedstryd het egter in die tweede helfte die beste van al twee spanne openbaar en die tuisspan het gou sy agterstand tot net een punt verminder. Saldanha het egter gewys hoekom hy die verdedigende kampioen is en het kort daarna nog ’n verdoelde drie aangeteken en sy voorsprong verder vergroot.
Young Hearts se spelers het ook gewys dat hulle die hart van ’n leeu het en het die kampioen tot die uiterste beproef. Met die tuisspan se nooit-opgee-houding het die span van Ruben Abels weer die agterstand tot een punt laat krimp. Saldanha is ook by tye met die bal agter die skrum betrap, maar met al die gebiedsvoordeel kon die kampioen dit eenvoudig nie in punte omgeskep kry nie. Met die uurglas wat leegloop was die tuisspan sterk op die aanval in die besoekers se kwartgebied, maar het besit verloor, en die kampioen het die tuisspan en sy ondersteuners se harte met die wendrie gebreek.
Mamre het ook gewys dat hy gewis na die uitspele wil gaan. Die groen truie het Paternoster 19-13 in ’n wegwedstryd geklop om sy tweede plek te verstewig. Paternoster se nederlaag beteken ook dat die span nou plek vir Velddrif in die derde plek gemaak het. Met die liga wat einde se kant toe staan, is al die aanspraakmakers se lot in hul eie hande.
St. Helenabaai se wiskundige kans raak ook elke naweek moeiliker en die Agterbaai sal hoop dat van die spanne voor hom se wiele begin afval.. Volledige uitslae:
Weskus: Young Hearts 23-31 Saldanha; Piketberg 25-32 St. Helenabaai; Langebaan 59-10 Koringberg; Paternoster 13-19 Mamre.
Swartland: Riebeeck United 23-46 Darling; Moorreesburg 54-13 Villagers Wittewater; Goodhopes 32-27 Never Despairs; Wesbank 24-17 Abbotsdale; Saron 13-25 Porterville.
Die naweek speel St. Helenabaai teen Vredenburg, Saldanha teen Piketberg, Mamre teen Young Hearts, Hopefield teen Paternoster en Koringberg teen Velddrif. Langebaan geniet ’n loslootjie.





