Gerhard Brune van AfriForum en Charmaine Laubscher, onderburgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit, knip die lint.Foto:


AfriForum se Weskus-tak het verlede naweek sy wandel­roete op die Longacres-landgoed in Langebaan, waar plante en veldblomme uniek aan die Weskus volop groei, vir die publiek geopen.

By die geleentheid is ook nuwe bome geplant as deel van die begin van die Weskus-tak se boomplantprojek vir 2023.

Hierdie plaaslike AfriForum-tak het reeds verlede jaar begin met die aanplant van inheemse bome en die identifisering van plante in die gebied.

Met die goeie reënval die afgelope jaar is skaars spesies veldblomme die eerste keer opgemerk. Die boomplantprojek is uitgebrei met ’n wandelroete van 2 km lank, waar die Weskus-plante en -veldblomme al langs die roete met bordjies gemerk is.

Charmaine Laubscher, onderburgemeester van die Saldanha-munisipaliteit, het die wandelroete amptelik geopen deur die lint te knip.

In haar openingstoespraak het sy klem gelê op selfdoen en ook die AfriForum-tak vir sy ondersteuning in die gemeenskap bedank.

“Ons werk graag saam met AfriForum en ander organisasies wat projekte aanpak tot voordeel van ons gemeenskap,” sê Laubscher.

Lisa Vos van die Longacres-groengordel het meer vertel oor die plante, veldblomme en die skaars plantsoorte wat op die wandelroete opgemerk kan word.

Volgens Sidney Monk, voorsitter van die Weskus-tak, gaan hierdie projek met verloop van tyd uitgebrei word.

“Ons wil graag Langebaan op hierdie manier ook bemark en moedig mense aan om die wandelroete te kom stap.”

. Kontak Monk by 082 802 2349 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article