AfriForum se Weskus-tak het verlede jaar ’n inisiatief in samewerking met lede van die Longacres-huiseienaarsvereniging begin om borde by veldblomme op die landgoed op te rig met die naam en agtergrond van dié veldblomme. Die borde is oral langs ’n staproete geplaas sodat besoekers aan die landgoed dit kan lees.

Die tak het ook ’n bord opgerig met inligting oor die tak self.

Vanjaar is dié projek uitgebrei en nog borde is by nuwe blomme opgerig. Die staproete bied ’n wonderlike geleentheid om die unieke plante en blomme in hul natuurlike habitat te sien en meer kennis daaroor op te doen. Die roete is ongeveer 2 km lank en enigiemand, jonk of oud, kan dit maklik stap.

Sidney Monk, voorsitter van die Weskus-tak, sê hulle beplan om nog inheemse boomsoorte langs die roete te plant, en individue en ondernemings is welkom om hulle te help plant.

“Die bome word voorsien deur kwekerye in Wolseley en Grabouw, wat ten doel het om teen 2025 tien miljoen bome te plant. Vanjaar is ’n besonder goeie jaar om die blomme te kom besigtig,” sê Monk.

Die Weskus-tak nooi die publiek om die roete op Sondag 20 Augustus van 11:30 te kom stap. Dít sal ook die amptelike inwyding van die staproete wees. Charmaine Laubscher, onderburgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, sal die verrigtinge met ’n kort boodskap open.. Bel Monk by 082 802 2349 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article