Dit is nie duidelik of die oortredings waarvan ’n Weskus-gemeenskap ’n 18-jarige beskuldig by die polisie aangemeld is of nie, maar inwoners het hom nietemin die afgelope week herhaaldelik aangerand.
Kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, het gesê dat die gemeenskap van een van die dorpe in Saldanhabaai se munisipale gebied “moeg was vir sy kriminele dade”. “Die jongman is al twee keer vanjaar in hegtenis geneem vir sy betrokkenheid by inbrake en diefstal by huise.”
Helfrich meen dit bly mense se keuse of hulle ’n saak wil laat registreer of nie. Sy moedig egter die publiek aan om liewers sake te registreer sodat dit ondersoek kan word.
“Die publiek word egter ontmoedig om eie reg te gebruik, want dan maak hulle hulself aan ’n misdryf skuldig.”
Indien mense besluit om nie ’n saak te maak nie, stel dit ander mense aan misdaad bloot omdat die eiendom wat gesteel word, in ander misdade gebruik kan word, soos ’n graaf of ’n leer.
Wat die aanmeld van sake betref, benadruk Helfrich dat mense in die verklaring wat hulle by die polisie aflê om ’n saak aan te meld, so volledig as moontlik besonderhede oor die misdaad en die gesteelde goedere moet gee, al maak hulle bloot die saak “vir versekeringsdoeleindes”.
“Die polisie kan nie ’n kort verklaring met min detail verder ondersoek nie. Hulle het niks om op te volg nie.”
“Teen die tyd dat ’n dief jou krane en koperpype gesteel het, is daar omtrent al by 25 ander huise ook ingebreek en gesteel. Met die aanmelding van so ’n soort saak, móét ’n volledige verklaring afgelê en in die saakdossier geliasseer word,” het Helfrich gesê.



