’n Agt-en-twintigjarige man, wat in hegtenis geneem is weens die onlangse wrede moord op ’n geliefde plaaswerker van die Edelweiss-plaas op Piket-Bo-Berg, het in die hof verskyn.
Michael Joubert is verlede Woensdagoggend in hegtenis geneem weens die moord op Leentjie Adams (57), het kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, gesê.
Adams het Saterdag 2 September by haar dogter op ’n buurplaas gaan kuier en is die laaste keer lewend gesien toe sy hulle gegroet en met ’n bergpaadjie, wat die twee plase verbind, terug huis toe begin loop het.
Sy het nooit die huis gehaal nie en is vermoedelik sowat 5 km daarvandaan vermoor. Haar lyk is in die gras langs die paadjie gedeeltelik met ou sinkplate toegemaak.
Haar man en kinders het haar die volgende dag by die polisie in Piketberg as vermis aangemeld.
Plaaswerkers het eers twee dae later, op Dinsdag 5 September, om 10:30 op Adams se lyk afgekom. Die dag was ook haar man se verjaarsdag.
Joubert het Vrydag 8 September in die Piketberg-landdroshof op ’n aanklag van moord verskyn.
Hy is in 2011, toe hy 16 jaar oud was, al die eerste keer gevonnis. Hy is toe 18 maande korrektiewe toesig opgelê vir ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy ’n man met ’n mes aangeval het.
Die administratiewe span van die Facebook-blad Praat Saam Piketberg het hulle in ’n gevoelvolle skrywe teen die wrede wyse waarop Adams, ook bekend as “Antie Sus”, uit die lewe geroep is, uitgespreek. “Niemand verdien dit nie.”
Hulle het verwys na ’n harewas-en-droogblaas-dag in Januarie vanjaar op Piket-Bo-Berg, wat hulle as ’n liefdestakie aangepak het en waarvan Antie Sus deel was.
“Sy het die jongmense geprys om dit ’n gereelde instelling te maak. Sy was voorwaar ’n sprankelende mens.”
Adams word as ’n lieflike mens beskryf – iemand wat lief was vir haar werk op die plaas en wat veral ook lief vir blomme was.
Dit is dus gepas dat familie en vriende op Vrydag 15 September die geleentheid sal kry om blomkranse te lê tydens ’n verbyry by die plek waar haar lyk gevind is.
Haar begrafnisdiens word Sondag 17 September om 09:00 vanuit die saal op Edelweiss gehou.
’n Diens vir die gemeenskap is reeds gisteraand (Woensdagaand 13 September) op die plaas gehou.
Helfrich het gesê die motief vir die moord word ondersoek en die oorsaak van Adams se dood sal deur die lykskouing bepaal word. Dit kan egter ’n geruime tyd neem.




