Die toename in misdaad is een van die kernfaktore wat inwoners van die Weskus raak. Mense – jonk en oud – word daagliks die teiken van gewoontemisdadigers of kwaadwillige boosdoeners.

Beriggewing hieroor is ook nie om onnodige vrees en paniek te saai nie, maar eerder om ’n realistiese prentjie te skep van die stryd waarin baie gemeenskappe gewikkel is.

Talle onskuldige mense is die afgelope paar maande in die streek vermoor, aangerand of beroof vir onsinnige redes, hetsy ’n paar sente, uit jaloesie, woede of bloot vir mag. ’n Toename in geweldsmisdaad word veral oor betaal-naweke opgemerk – wanneer geld vloei en mense ook dikwels meer alkohol gebruik.

Verskeie messteek-voorvalle is die afgelope betaal-naweek in gebiede soos Laingville, Malmesbury en Riebeek-Wes aangemeld, wat in die vroeë oggendure uit bakleiery gespruit het. Die slagoffer in die meeste voorvalle het sy of haar aanvaller persoonlik geken of hulle was in ’n verhouding met mekaar.

Selfs hospitaalpersoneel sê hulle kan nie bybly met al die noodgevalle wat oor naweke instroom nie. Ander sê weer hulle waag dit nie om tydens betaal-naweke op straat te wees nie uit vrees dat hulle ’n misdaadstatistiek sal word. Tog draai talle ’n blinde oog vir maatskaplike en huishoudelike geweld omdat hulle nie betrokke wil wees nie.

Maar om stil te bly, gaan niks verander nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article