Die Wes-Kaap se top-sportpresteerders is die afgelope naweek vereer vir hul harde werk en die Weskus-netbalfederasie het vanjaar weer geskitter.
Die jaarlikse toekennings word deur die minister van sport en kultuursake, Anroux Marais, aangebied. Streekwenners van die provinsie kom in aanmerking vir die provinsiale toekennings, met die wenners wat dan op hul beurt aan die nasionale kompetisie deelneem.
Die Weskus-netbalfederasie is weer as die federasie van die jaar aangewys en dié span bedank al sy klubs, spelers, die bestuur en spanbeamptes.
“Sonder jul ondersteuning en bydrae sou dit nie moontlik gewees het nie. Die toekenning is aan almal betrokke by Weskus Netbal!” het die bestuur aan Weslander gesê.
Brendon Kotella van die Swartland is op sy beurt as die Sport-gemeenskapbouer van die Jaar aangewys. Kotella het aanvanklik sy gemeenskapswerk met rugby in Chatsworth begin, maar later die gebrek aan aktiwiteite en sport vir meisies raakgesien.
Hierna het hy informele netbalwedstryde begin. Dié spelers het later as ’n klub onder die Weskus-netbalfederasie geregistreer en het van krag tot krag gegaan.
By die toekenningsgeleentheid Saterdagaand het Marais al die sportlui van al ses streke in die provinsie geluk gewens met hul reeds uitmuntende prestasie as finaliste.
“Jy wapper die vlag van jou streek. Dankie dat julle rolmodelle en helde vir ons gemeenskappe is.
“Dankie dat julle die regte en gesonde lewenskeuses gemaak het. Dankie dat julle voorbeelde vir ons almal is,” het sy gesê.
Die atleet Anli Engelbrecht is op haar beurt as die Nuweling van die Jaar aangewys. Sy het die land onder meer in Augustus by die Statebond-Jeugspele verteenwoordig.
Die Weskus se ander finaliste was:
. Vrywilliger van die Jaar: Shoenay Siebritz (skaak). Inheemse sport: Kwakhona Paliso, Intonga. Skoolspan: Curro Langebaan o.11-meisies-skaakspan. Ontwikkelingspan: Laerskool Meiring o.9-skaakspan. Skoolsportvrou: Zané Esterhuizen. Skoolsportman: Meguel Ocks . Beste naskoolse sport- en rekreasieprogram: Score Malmesbury gemeenskapsportsentrum en 9Miles Project. Fotograaf: Clive Cupido . Afrigter: Theresa Pienaar (skopboks). Administrateur: Natasha Opperman (skaak). Span: Langebaan Strandlopers. Erkenning van tegniese uitnemendheid: Danritch Booysen (tafeltennis). Junior sportvrou: Deanné Pienaar (skopboks). Junior sportman: Luke Holtzman (karate). Sportman van die Jaar met ’n gestremdheid: Leander Pholman (atletiek). Sportman: Devon Melk (skopboks). Sportvrou: Chantel Carstens (hengel)




