Die aanklag teen ’n reeksbedrieër, wat in Mei vanjaar vir ’n seksuele aanrandingsaak op ’n seun, in Vredenburg in hegtenis geneem en na Bloemfontein geneem is, is teruggetrek.

Volgens Phaladi Shuping, Vrystaatse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het die 23-jarige klaer in die saak in September aansoek gedoen dat die saak teen die 49-jarige reeksbedrieër teruggetrek word. Die klaer was 16 jaar oud toe hy die aanklag van seksuele aanranding in 2014 aanhangig gemaak het.

Landdros Estelle de Lange het die versoek op 11 September toegestaan.

Die man teen wie die saak teruggetrek is, was ’n bekende by drinkplekke en sportkroeë in die Weskus waar hy die afgelope agt jaar gewoon en gewerk het.

Hy is op 4 Mei vanjaar by ’n sportkroeg op Vredenburg in hegtenis geneem.

Hy is deur die jare al skuldig bevind op verskeie aanklagte en het verskeie vonnisse – van tronkstraf tot korrektiewe toesig – uitgedien vir onder meer bedrog en diefstal in die Paarl (1994, 1995), ’n seksuele misdryf in Franschhoek (1996), diefstal in Bellville (2001) en motordiefstal in Johannesburg (2001).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article