Lede van Swartland DBV by die honde wat in Desember 2017 van Angie O’Donnell se eiendom in Hopefield verwyder is.


Sy het haarself ’n diereliefhebber en teler genoem, maar ’n hof het Angie O’Donnell verlede week aan dieremishandeling skuldig bevind.

Die Swartland- en Weskus-dierebeskermingsvereniging (DBV) het in 2017 die eerste keer diere van O’Donnell se woning in Hopefield verwyder.

In O’Donnell se eie woorde was sy ’n teler van Deense honde, maar tydens ’n inspeksie deur Stephanie Fortuin en Patrick Chiwana, toe ’n leerling-inspekteur, het hulle afgekom op ernstige siek diere. Een Deense hond was in só ’n toestand dat die veearts die beamptes gemaan het die hond moet uitgesit word.

Weslander het destyds berig (“Vrou ná 5 jaar vervolg”, 14 Desember 2017) oor die voorval. Die plaaslike DBV het toe reeds ’n klagte van dieremishandeling teen O’Donnell by die polisie aangemeld.

Sedertdien het die dierebeskermingsorganisasie oor die jare 31 diere, insluitend ’n Friesperd, van O’Donnell se eiendom verwyder. Sy het destyds beweer die rede hoekom die diere in só ’n haglike toestand was, was omdat die diere vergiftig, gesteel en toe met groot moeite teruggevind is. Sy het ook beweer sy het na die diere omgesien toe die inspekteurs haar diere verwyder het.

Die Hopefield-landdroshof het O’Donnell egter skuldig bevind aan dieremishandeling. Sy is ’n jaar van huisarres opgelê, met 16 uur se gemeenskapsdiens per maand wat O’Donnell moet voltooi. Gepaard hiermee moet O’Donnell drie kursusse in “konflikhantering en hantering van aggressie” voltooi. Sy mag vir die volgende jaar ook geen diere hê nie.

“Ons is verlig om die nuus te deel dat geregtigheid in die Angie O’Donnell-saak geskied het, wat ’n beduidende oorwinning vir dierewelsyn beteken. Gister het ons die langverwagte skuldigbevinding en vonnis ontvang vir die hartverskeurende dieremishandeling wat me. O’Donnell gepleeg het. Hierdie beproewing het ons almal by die Swartland- en Weskus DBV diep geraak, maar vandag vind ons troos in die uitsluitsel,” het Colette Mang, voorsitter van die plaaslike DBV, Vrydag (3 November) luidens ’n verklaring gesê.

Die organisasie het aanvanklik klagtes ingevolge die Wet op Dierebeskerming (wet 71 van 1962) teen dié Hopefield-inwoner op 7 Junie 2017, 29 Desember 2017 en 2 Mei 2018 aangemeld.

Die eerste klagtes is deur die Hopefield Animal Care in 2012 aan die DBV gemeld oor die “haglike toestand” van haar diere. Op haar beurt het O’Donnell aangevoer mense in die gemeenskap wou haar “bykom”.

Die DBV-span het van die diere wat van O’Donnell se woning af gered is, behandel en vir hulle nuwe tuistes gevind. Een gesin, wat ’n Deense hond, Maximus, van die DBV aangeneem het, het die span vir hul werk bedank.

“Maximus, sommer Max vir kort, is een van die hondjies wat van [O’Donnell] af gekom het. Hy is in Mei 2018 gebore en ons het hom aangeneem toe hy so nege weke oud was. Baie dankie namens Max en al die ander woefers wat julle gered het van daai vrou,” het die persoon aan die DBV-span gesê.

Mang het haar kollegas uitgesonder vir hul besonderse werk in beide die redding van weerlose diere asook hul getuienis in vele hofsake wat help om diere­mishandelaars vir hul dade te laat boet.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die vonnis bevestig.

. Besoek swartlandwestcoastspca.co.za of hul Facebookblad vir meer oor hul werk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article