Die kaasmaak-deelnemers saam met Christo Venter (voor).Foto:


AfriForum se Weskus-tak het Saterdag 4 November ’n demonstrasie in samewerking met Christo Venter by Curro Langebaan aangebied oor hoe om kaas te maak.

Venter het in Limpopo geboer, onder meer ook met melkbokke. Hy het ook met die bokmelk begin kaas maak. Sy kaas was so in aanvraag dat hy ook aan kompetisies in Suid-Afrika en Engeland deelgeneem het. Hy het plaaslik sowel as internasionaal pryse met sy kaas gewen.

Christo het beesmelk vir die onlangse demonstrasie gebruik. Hy is baie beïndruk deur die gehalte van die melk wat Darling lewer en dat dit geskik is vir die maak van feta- en maaskaas.

Die 11 deelnemers wat die sessie bygewoon het, het die manier waarop Christo die klas aangebied het geniet.

Hulle het baie geleer en die poging wat hulle saam met Christo aangewend het, sal eersdaags geproe word.

’n Deelnemer, Rhona Harwin, se^ dit was ’n baie leersame klas.

“Ek dink die meeste van ons het dit baie interessant gevind, aangesien dit die hele proses van die maak van ’n klein blokkie kaas verduidelik. Dit is ’n baie tydsame proses en verg baie geduld. Ons sien uit na ’n verdere byeenkoms waar die produkte oor sewe tot 14 dae geproe gaan word. Christo is baie goed ingelig oor hierdie onderwerp en is ’n bekroonde kaasmaker.”

Carmen Rodgers het die kursus as ’n wonderlike ervaring beskryf en gesê sy kyk met nuwe oë na kaas.

“Dis nie jou Tik-tok-video’s oor kaasmaak nie. Inteendeel – hierdie prosesse vereis deursettingsvermoë en verg baie geduld. Die koste daaraan verbonde is nogal groot; geen wonder kaas is so duur nie. Ek sien myself en ’n paar vroue in die gemeenskap in die nabye toekoms kaas maak. Baie dankie aan Christo Venter; hy was briljant.”

Sy het ook Afriforum, wat die sessie bewerkstellig het, bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article