Sommige inwoners van Hopefield is onlangs hul deernis-toelae kwyt nadat hulle geweier het om hul kragbokse met ’n laer-amp-weergawe te laat vervang.

Volgens die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se deernisbeleid moet begunstigdes se voorafbetaalde elektrisiteitsmeters 30 ampère of minder wees, omdat behoeftige huishoudings slegs gesubsidieer word indien hul elektrisiteitsmeters ’n maksimum van 30 ampère is.

Sommige deernis-begunstigdes se elektrisiteitsmeters was egter meer en die munisipaliteit het dus besluit indien nodig sal kwalifiserende huishoudings se elektrisiteitsmeters vervang moet word.

“Daar is opgemerk dat sommige huishoudings nie die verskil betaal wat nie deur die raad gesubsidieer word nie, wat lei tot boetes in terme van elektrisiteitsaankope.

“Indien dit nie betaal word nie, moet hierdie skuld as slegte skuld afgeskryf word,” het Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die munisipaliteit, by navraag gesê.

Daar is ’n verskil van R244,61 tussen ’n 30-amp- en 60-amp-elektrisiteitsmeter.

Begunstigdes is reeds in Oktober in kennis gestel dat die munisipaliteit die koste sal subsidieer om die 60-amp-elektrisiteitsmeters met die nodige 30-amp-meters te vervang.

Begunstigdes wat nie die vervanging toelaat nie, sal nie vir die elektrisiteit-subsidie kwalifiseer nie.

JPD Turnkey Projects is gekontrakteer om die omskakeling te doen. Dit blyk van die begunstigdes is ongelukkig oor die omskakeling van hul elektrisiteitsmeters. Volgens die inwoners sou die afgradering van meters hulle verhoed om byvoorbeeld, hul wasmasjien en ’n geiser op dieselfde tyd aan te hê. Sommige Hopefielders het dus die vervanging van hul meters geweier, maar Lawrence verduidelik die munisipaliteit se beleid stel dit duidelik en begunstigdes is dus gemaan dat hulle nie meer vir ’n deernis-toelaag sal kwalifiseer nie.

“Dit moet genoem word dat slegs enkele huishoudings in Hopefield geweier het,” verduidelik die munisipaliteit.

Inwoners kla egter hul elektrisiteitsrekening was in November sowat R1 000 duurder. Met vele wat slegs hul Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa)-toelae as inkomste het, ruk die styging in elektrisiteitsrekening gewis hul sak en hulle sê hulle kan dit eenvoudig nie bekostig nie.

“Die feit dat ’n huishouding daarop aanspraak maak dat hulle behoeftig is en steeds die hoë koste verbonde aan elektrisiteit kan bekostig, maak die geskiktheid van die aansoek van so ’n huishouding twyfelagtig,” meen die munisipaliteit egter.

Meer inligting oor die Saldanhabaai-munisipaliteit se deernis-toelae kan op hul webtuiste gevind word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article