Inwoners in die Bergrivier munisipale gebied is ontsteld oor die aantal krageenhede wat hulle ontvang.

Noluvu Ludidi

Inwoners in die Bergrivier-gebied het hul kommer uitgespreek oor krag-aankope wat tot hul nadeel strek.

Volgens ‘n paar inwoners het hulle oor die afgelope naweek koopkrag gekoop, maar die eenhede het nie die waarde weerspieël wat hulle gekoop het nie. ‘n Inwoner meen hierdie

probleem kom al vir jare aan en

wanneer inwoners se munisipale rekeninge agterstallig is, verhoed die Bergrivier-munisipaliteit inwoners om as gevolg van die agterstallige rekeninge volle eenhede te kry.

“Dit is regtig onmenslik, want daar is mense wat glad nie ‘n inkomste verdien nie, die ouer garde moes heel naweek sonder krag regkom en kinders wat honger skool toe moes gaan as gevolg van geen krag om kos te maak nie. Daar is mense wat siek is en dalk op suurstof moet wees, maar hoe as daar nie krag is nie?”

‘n Ander meen daar is inwoners wat nie alternatiewe oplossings kan bekostig nie en nie die ekstra geld het om nog krag te koop om te oorleef nie. “Wanneer dit by reëlings tref kom, word nie na ons omgesien of deernis getoon nie.”

Volgens Matthew Sheldon, ‘n woord- voerder van die Bergrivier-munisipa- liteit, is hulle bewus van die kommer wat deur lede van die publiek rakende hul kredietbeheermaatreëls gedeel word. Daar is om hierdie rede besluit om ‘n laaste geleentheid van Dinsdag 20 tot Vrydag 30 Mei aan alle kliënte wat nog nie hul naaste munisipale kantoor besoek het om ‘n reëling te tref om hul uitstaande skuld te betaal nie, te bied.

“Die munisipaliteit het in Februarie en Maart kennisgewings aan elke huishouding en deur sosiale-media- plasings en ‘n video oor kredietbeheermaatreëls (wat ingestel moet word) uitgereik en kliënte aangemoedig om die nodige reëlings met die munisipaliteit te tref om rekeninge wat agterstallig is, af te betaal voordat stappe op Donderdag 1 Mei gedoen sou word. Dit is gedoen nadat die raad die kredietbeheerbeleid verander het.

Kredietbeheermaatreëls word toegepas op inwoners wie se rekeninge agterstallig is.

Gedurende hierdie verlengingstydperk wat toegestaan ​​is, sal die 50/50-reël geld.

“Van Sondag 1 Junie sal die verlengingstydperk verval en die munisipali-

teit sal terugkeer na die goedgekeurde kredietbeheermaatreëls, waar 90% van die geld wat betaal word, vir skuld aangewend word.

Die munisipaliteit verstaan ​​die finansiële druk op baie huishoudings en het verskeie pogings aangewend om na inwoners wat daardeur geraak word, uit te reik.

“Dit is egter belangrik om te beklemtoon dat die munisipaliteit staatmaak op inkomste-invordering om volhoubaar te bly en om voort te gaan om noodsaaklike dienste te lewer.”

Sheldon lê klem daarop dat inwoners hul naaste munisipale kantoor moet besoek om ‘n bekostigbare betalingsreëling te tref om enige verdere

diensonderbrekings te vermy.

“Ons bly daartoe verbind om op ‘n regverdige en deursigtige wyse met inwoners saam te werk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 February 2026
    Weslander E-Edition – 12 February 2026

Gift this article