Drie van die vyf gewapende rowers wat verlede week die “onderste” Shoprite in Vredenburg se hoofstraat probeer beroof het, het reeds op aanklag van roof in die landdroshof verskyn – saam met ’n plaaslike vrou.
Die vyf het die winkel Dinsdag 5 Desember net ná 07:30 binnegegaan, sê kapt. Tania Helfrich, die Weskus-polisiewoordvoerder, nét nadat die winkel vir die dag oopgemaak het.
Kwanele Balithafa (34), Siyabonga Belle (32) en Ntobeko Nqweniso (36) van Khayelitsha in die Kaap het Donderdag 7 Desember saam met Lona Mpana (26), ’n Vredenburgse vrou, in die landdroshof op Vredenburg op aanklagte van sakeroof verskyn.
Belle staan ook tereg op ’n aanklag van die onwettige besit van ammunisie. Hy is ná sy inhegtenisneming deursoek en ammunisie is by hom gekry.
Die saak word deur die eenheid teen georganiseerde misdaad van die Wes-Kaap ondersoek.
Lt.kol. Siyabulela Vukubi van die polisie se direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke, die Valke, sê hulle ondersoek ’n soortgelyke voorval verlede Maandag (4 Desember) in Dunoon in die Kaap, waartydens ’n 52-jarige veiligheidswag doodgeskiet is. Vukubi sê aanklagte van moord en gewapende roof word ondersoek nadat ’n geldwa met die maandelikse geld van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) onderweg na die Shoprite in Dunoon deur rowers oorval is.
Volgens Vukubi het vyf rowers die geldwa oorval. Niemand is nog in verband met die rooftog aangekeer nie.
Die polisie vermoed die Vredenburg-rooftog is ook rondom Sassa-uitbetalings beplan.
Volgens Helfrich is die twee rowers wat met die Vredenburg-rooftog in ’n Nissan NP200 gevlug het, nog soek. Die voertuig is later die dag verlate in George Kerridge gekry.
Die dag ná die Shoprite-rooftog was die dorp se mense weer in rep en roer met ’n winkeldief wat ’n vroulike winkelassistent van ’n klerewinkel met ’n mes gedreig en klere gesteel het.
Die 21-jarige werknemer van Truworths in Hoofstraat, Vredenburg, het gesien hoe ’n man ’n T-hemp en vyf sweetpakbroeke van ’n rak in die winkel afhaal. Hy het hierna nog ’n bietjie in die winkel rondgedwaal voordat hy skielik met die R3 200 se klere op die vlug geslaan het.
Die werknemer het hom agternagesit, waarop die winkeldief haar met ’n mes gedreig en met die klere weggehardloop het. Die werknemer is nie in die voorval beseer nie.


