Die tweede SA20-reeks het op 10 Januarie afgeskop, en krieket ondersteuners kan uitsien na ’n maand van die prettigste en vinnigste aksie wat krieket kan bied.
Die boerpot van R2 miljoen, danksy die hoofborg, Betway, sal verdeel word tussen dié toeskouers wat ’n skoon vangskoot (wanneer ’n kolwer die bal luglangs oor die grenstou jaag) met een hand kan uitvoer.
’n Rits kolwers van wêreldgehalte sal ook vanjaar weer hul slag in dié reeks wys.
“Die betrokkenheid van aanhangers is die hartklop van groot sportbyeenkomste en Betway se vangskoot-kompetisie in die SA20 is geen uitsondering nie,” het die voormalige Protea-kolwer en kommissaris van die liga, Graeme Smith, gesê.
“Die opwinding wat dié kompetisie met sy eerste aanbieding verskaf het, was ongeëwenaard. Ons het gesien hoe die vangskoot-koors toeskouers in al ses stadions beetgepak het.”
Nege toeskouers (wat 18 of ouer moes wees om in aanmerking te kom) het verlede jaar in die boerpot van R2 miljoen gedeel.
Die SA20-reeks vind van 10 Januarie tot 10 Februarie in Kaapstad, Centurion, Durban, Gqeberha, Johannesburg en die Paarl plaas. Krieketliefhebbers kan hierdie wêreldklasreeks persoonlik by onder meer Boland Park in die Paarl, geniet. Vir kaartjies besoek www.ticketpros.co.za.
Die volledige wedstryd-skedule is beskikbaar by www.sa20.co.za/matches.




