Gewapen met sy besem en skoppie help ’n Saldanhabaaier om die plaaslike strate vir padgebruikers te beveilig.
Weskussers was vol lof vir Dolf Nel, wat verlede week by die ingang van Saldanha gestop het om glas langs die pad op te vee.
Patrick Lakabane, ’n Saldanha-inwoner en kranige fietsryer, het Vrydag op sosiale media oor Nel se daad geskryf. “Gister, terwyl ek van Vredenburg af teruggery het, was ’n geel motor langs die pad geparkeer en ’n man het die skouer van die pad, voor die dorpsingang, gevee,” het hy vertel.
Lakabane vertel verder hy het omgedraai om te sien waarmee die man besig was en het Nel met sy besem in die hand aangetref.
“Ek kon nie my opgewondenheid beteuel nie en het dadelik my dankbaarheid oorgedra.
“Hier was hierdie barmhartige samaritaan besig om die pad skoon te maak waar ’n selfsugtige, veragtelike, vieslike mens besluit het om dit as ’n stortingsterrein te gebruik,” meen die fietsryer.
Hy bieg hy het self verskeie kere verby die glas gery en liewer om dit gery as om dit skoon te maak.
Lakabane sê egter Nel se daad het hom geïnspireer en dien as voorbeeld vir ander Baaiers.
Ander inwoners het saamgestem en vertel hoe hulle self Nel in ander strate dieselfde sien doen het.
“Ja-nee, hoeveel keer ry of loop ons verby hierdie soort goed elke dag, sien dit raak, maar slaan nie ag daarop nie.
“Ons het soveel om te leer by mnr. Nel. Ons almal, bedoelende die meeste van ons, loop net verby, maar verroer nooit ’n vinger [nie] en wag maar vir die munisipale werker om die slootjies te kom skoonmaak, want so dink ons mos ‘nee, ons is te goed om self ’n vinger te lig’,” het iemand in die plasing geskryf.
Weskussers was dit eens dat Nel, voorheen ’n regskonsultant vir ’n plaaslike regsfirma, se skoonmaak sommer hul dag gemaak het.
Die Pedel Power-vereniging maan fietsryers om op die uitkyk te wees vir veral glas op die pad, kat-oë, dreindeksels, olie en sand op hoofroetes.
Weslander het by Nel aangeklop om te hoor waar sy passie vir sy “gemeenskapswerk” vandaan kom, maar hy was nie beskikbaar vir kommentaar nie.





