“Met social media ht ons nie meer koerante nodig ni (sic).” Dit was maar net een van die vele kommentare wat die gedrukte en digitale media die week oorval het met beriggewing oor die vermiste sesjarige Joshlin Smith van Middelpos, Saldanha.
Nog meer kommerwekkend was kommentaar dat ’n berig wat deur ’n nasionale digitale platform geplaas is, vals nuus is omdat dit nie deur ’n politikus op sy blad bevestig is nie. Die einste beweerde “vals nuus” is toe wel later op die politikus se blad bevestig.
Weslander het op sy beurt uit die staanspoor ’n neutrale standpunt ingeneem, veral toe ’n mengelmoes stemme, elk met hul eie teorie, hul mening op sosialemediaplatforms begin deel het – dit juis omdat dit die rol van die media is om geverifieerde, akkurate nuus met lesers te deel.
Op daardie noot – ons ontken geensins dat ons soms foute maak nie, maar die media se foute word aan die groot klok gehang, en dit is nie noodwendig ’n negatiewe ding nie. Enige opgeleide joernalis weet wat die standaard is waaraan beriggewing moet voldoen.
Maar wees seker – alles wat enige geloofwaardige mediapublikasie publiseer, is vooraf met minstens drie verskillende bronne na aan die ondersoek of betrokke partye self bevestig. Dit is bronne met wie oor die jare heen verhoudinge opgebou is en wat enige geloofwaardige joernalis sal beskerm omdat hulle weens hedendaagse burokrasie nie meer op rekord met die media mag praat nie.
In die tyd van digitale media word dit al hoe moeiliker om altyd vir die amptelike polisieverklaring te wag.
Nietemin sal geen geloofwaardige mediahuis ooit doelbewus iets publiseer wat (1) nie deur feite gestaaf is nie – hetsy deur ’n uiters betroubare bron of iets op skrif – en (2) die kredietwaardigheid van hul publikasie in die gedrang sal bring nie.
Die kwessie is egter nie dat daar nie meer ’n behoefte aan koerante is nie, maar eerder of die behoefte aan geloofwaardige joernalistiek nog bestaan – ’n vraag wat Jan Alleman hom- en haarself moet afvra, maar die antwoord is een met morele en etiese implikasies.





