Wyle Werner Groenewald saam met sy vrou, Bernalene.


Hy was gewild onder oud en jonk.

Só beskryf Bernalene Groenewald haar man, Werner Groenewald, ’n bekende Weskusser, wat op Vrydag 8 Maart weens lewersirrose oorlede is. Hy sou op 19 Junie vanjaar 52 jaar oud geword het.

Vir sy vriende en ander in wie se lewe hy ’n groot invloed gehad het, was hy Luitenant, Wingman, Druppeltjie en Viskop – elk uniek gekies vir die rol wat hy in hul lewe vertolk het.

Bernalene sê sy mis hom al klaar, en die gedagte om ná 25 jaar die lewe alleen aan te durf, is vir haar baie moeilik.

Sy beskryf haar eggenoot as ’n groot man met ’n klein hart. “Hy was altyd vriendelik, liefdevol en hulpvaardig. Nie net was ons getroud nie, maar ons was baie goeie vriende en het baie dinge saam gedoen, en daar is ’n groot leemte in my. Hy was geliefd deur baie,” sê Bernalene.

Werner het in Vredenburg grootgeword en ná skool by die weermag in Oudtshoorn aangesluit, waarna hy ook ’n paar jaar by Vier Spesmagte in Langebaan was. Daarna het hy as ’n makelaar by onder meer Sanlam en, tot sy afsterwe, by Nedbank gewerk, waar hy oor die jare met talle mense kontakte en goeie bande gebou het.

Sy goeie vriend Hein de Villiers sê hy en Werner het mekaar sowat 25 jaar geken. “Sommer so in die versekeringswêreld, en toe het ek hom ingebring in die Round Table, waar ons toe daarvandaan baie goeie vriende geraak het.”

Hein vertel hy het ’n goeie vriendskap met Werner gehad, ’n spesiale een.

Hy vertel graag dat party van die dinge wat hulle gedoen het, natuurlik hul vroue kwaad gemaak het. “Soos die een keer toe ons vir ’n week na ’n pel van ons in Louis Trichardt verdwyn het – toe ons die volgende oggend die vrouens gebel het om te sê ons het die vorige aand Gauteng toe gevlieg, was dit ’n baie netelige storie. Ons moes keer of daar was ’n spotprent in die Weslander. Op die ou einde moes ons vir die vrouens se Doebai-vakansie betaal om jammer te sê.”

Dit is maar net een van die enkele herinneringe van hul vriendskap wat hom sal bybly.

Bernalene sê dit is baie moeilik om te dink sy moet sonder hom aangaan, en soos sy, is daar baie mense wat hom al klaar mis.
Die begrafnisdiens vind Saterdag (16 Maart) om 11:00 in die NG kerk Langebaan plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article