Velddrif het Young Hearts Saterdag op die grafkelder tot die laaste minuut hard laat werk vir hul oorwinning. Die besoekers, wat soos ’n dieseltrein begin het, kan egter net hulself vir die nederlaag blameer.
Velddrif, wat rustyd 10-14 agter was, het die wedstryd 29-31 verloor, wat ook hul derde nederlaag uit vier wedstryde is.
Die besoekers, wat nooit regtig die eerste 20 minute aan die gang kon kom nie, was ook gou 0-14 agter en die tuisspan se ondersteuners was gou plesierig – net om later al stiller te word.
Velddrif is in die skrums onder druk geplaas en die tuisspan se eerste drie was juis ’n strafdrie van ’n vaste skrum. Velddrif het namate die wedstryd gevorder het, stoom opgebou, maar goeie bewegings wat die besoekers tot naby die tuisspan se doellyn geneem het, het skipbreuk gely met hanteerfoute en omgekeerde besit.
Velddrif het begin karakter toon en die tuisspan moes keer vir al wat hy werd is. Die besoekers het ná twee drieë in vier minute in die tweede helfte ’n doodse stilte oor die grafkelder laat hang. Velddrif het moedig probeer, maar die tuisspan se verdediging wou nie bes gee nie.
Saldanha het Saterdag in ’n wegwedstryd teen Langebaan sy onoorwonne status met ’n 22-15- oorwinning behou. Die voormalige Boland-kampioen is nog een van twee onoorwonne spanne in die streek. Vredenburg, wat ook nog onoorwonne voor Saterdag se wedstryd teen Hopefield was, het egter vasgeval met 29-30.
Die “burg boys” het ten spyte van die nederlaag die eerste plek op die punteleer ingeneem met Saldanha tweede. St. Helenabaai, wat ook nog onoorwonne is, het Saterdag op sy tuisveld met agt punte elk gelykop teen Paternoster gespeel. Die span uit die Agterbaai, wat ’n wedstryd minder as die voorlopers gespeel het, kon die punteleer maklik deurmekaar krap as hulle gewen het.
Mamre is ná sy wedstryd teen Saldanha in Mamre swaar deur die Unie gestraf nadat die wedstryd onplesierig geëindig het. Mamre is met R50 000 beboet, wat met die helfte opgeskort is, en die span is ook vir agt wedstryde (opgeskort vir vyf wedstryde) geskors.
Uitslae: Swartland
Never despairs 20-42 Wesbank, Good Hopes 29-22 Darling, Porterville 21-23 Abbotsdale, Saron 31-11 Young Eagles en Villagers Wittewater 24-22 Moorreesburg. Weskus
Langebaan 15-22 Saldanha, St. Helena 8-8 Paternoster, Young hearts 31-29 Velddrif, Hopefield 30-29 Vredenburg en Steenberg’s Cove 28-0 Mamre.





