Vroue wat deurloop onder geslagsgebaseerde geweld (GBV) leef in deurlopende vrees vir hul lewe. (Foto geposeer.)Foto: Alida Buckle


Geslagsgebaseerde geweld (GBV) is een van die grootste probleme waardeur Suid-Afrikaanse én Weskus-vroue in die gesig gestaar word, en raak veral vroue en meisies van enige ouderdom, ras en sosiale omstandigheid.

GBV spruit uit ’n geskiedenis van diepgewortelde geslagsongelykheid en is in wese geweld teen iemand weens hul geslag. Hoewel GBV teen beide mans en vroue gerig kan word, is die meerderheid van die slagoffers vroue.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, wat van Saldanha tot Vanrhynsdorp strek, het talle vroue die afgelope naweek weer eens onder geweld deurgeloop.

’n Tienermeisie van Elandsbaai is Saterdagaand (23 Maart) met die vuis op die mond geslaan. Die 13-jarige meisie en haar ma het saam met ’n kennis gesit en sokker kyk toe die kennis kwaad raak en hulle vra waar sy vrou dan is. Hy het die tiener hier met die vuis geslaan.

’n Man van 26 jaar van Redelinghuys is in hegtenis geneem nadat hy Saterdagaand (23 Maart) sy gewese meisie met ’n mes aangeval het.

In St Helenabaai is twee vroue Saterdag (23 Maart) deur hul gewese kêrels aangerand. Twee afsonderlike klagtes van aanranding word ondersoek.

’n Blykbaar welbekende Clanwilliam-man het Saterdag (23 Maart) verskeie kere na ’n winkel in Nerinastraat gegaan. Met sy laaste besoek het hy ’n 38-jarige vrou met ’n skroewedraaier gedreig, op haar gevloek en haar in die gesig gestamp. Hy is in hegtenis geneem.

In Piketberg is ’n 34-jarige man aangekeer nadat hy Saterdagoggend (23 Maart) sy 25-jarige meisie aangerand en haar met ’n skêr probeer steek het. Dit het op die dorp se sportterrein plaasgevind.

In Moorreesburg het ’n 28-jarige man Sondag (24 Maart) ’n panga teen sy 53-jarige ma se keel gehou en haar met die dood gedreig. Hy is in hegtenis geneem.

’n Tienermeisie van 16 jaar van Riebeek-Wes is Saterdagoggend (23 Maart) om 00:10 herhaaldelik in die gesig geslaan deur ’n man wat sy goed ken. Hy wou haar dwing om saam met hom te drink en sy het geweier. Die man is in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article