Nadat haar man, Clint Christians (57), reeds inmekaargesak het, het die twee moordenaars net aanhou steek. Dít is die wrede prentjie wat Lisle Christians (55) voor haar sien as sy haar oë toemaak.
Die egpaar het Saterdag net voor 15:00 van Vredenburg af by hul huis op die plaas Besaansklip oorkant die Orex-aanleg aangekom en tot hul skok gesien dat die plek verniel, stuk-stuk afgebreek en geplunder is.
Hulle het die vorige aand in hul woonstel in Wesbank, waar hulle ’n winkel het, geslaap.
“Vensters is uitgekap, die deure afgebreek, vensterrame uitgeruk. Hulle het tot in die plafon gate gekap. Die stoortjie oopgebreek, slotte afgekap.” Hul een hond is ook onder die oog gesteek.
Die egpaar het in die huis van vertrek tot vertrek geloop om na die skade te kyk. Toe hulle in die sitkamer kom, het hulle hul hond buite hard hoor blaf.
Buite het hulle twee mans van iets in die laat dertig gesien, een het ’n skroewedraaier en een het ’n panga by hom gehad.
Clint het op hulle geskree om te gaan, waarop hulle hom eenvoudig oral begin steek het. Hy het op sy knieë gesak, maar die moordenaars het net aanhou steek, op sy rug, oral.
“Sy kop was vol bloed. Sy hele lyf, net bloed.”
Lisle het een moordenaar met ’n baksteen gegooi waarop hy haar toe kom steek het. Sy het ’n wond in haar skouerblad opgedoen waarvoor sy later moes steke kry.
Een aanvaller wou Lisle se ringe hê en het gesukkel om dit van haar vingers af te kry. Hy het gedreig dat hy haar vingers gaan afkap. Sy het die ringe afgekry en haar hangertjie ook vir hom gegee. Haar aanvaller het ook sy hand in haar hemp gedruk om vir geld en ’n selfoon te soek.
Die moordenaars het ook hul selfone gevat en in Clint se beursie gekrap, maar dit later eenkant toe gegooi.
Die moordenaars is ook met die bakkie se battery weg wat Lisle gestrand met ’n gewonde man gelaat het. Sy het vir Clint gesê dat sy gou terug is, sy gaan net hulp soek.
Onbewus daarvan dat sy gewond is, het Lisle die sowat 4 km lange grondpad na die teerpad gehardloop. Hul honde het al die pad saam met haar gehardloop. Sy het eers besef dat sy bloei teen die tyd wat sy by die pad gekom en begin lam voel het.
Daar het sy tevergeefs probeer om verskeie motoriste te kry om stil te hou. ’n Man met die naam Willem het uiteindelik stilgehou en haar gehelp. Hy het die polisie, die ambulans en ’n gesinsvriend gebel en vir haar water gegee.
Munisipale werkers het ook stilgehou en aangebied om saam met haar vir die Saldanha-polisie te wag. Met hul aankoms terug by die huis het Clint egter reeds gesterf.
Lisle het net lof vir die polisieman wat haar by die moordtoneel en by die hospitaal bygestaan het. Hy het selfs vir ’n battery vir die bakkie gereël.
Die egpaar het die afgelope nege jaar sowat agt sake van huisbraak by die polisie aangemeld. Die mees onlangse voorval was in Desember.
Dit was veral Clint se droom om te boer. Die egpaar se varke en hoenders moes vandeesweek verkoop word, want Lisle gaan nie verder daar woon nie.
Clint was ook betrokke by die Genesis Hub in Diazville.
Clint was altyd baie beskermend teenoor Lisle. Hulle bly in die Weskus sedert hulle nege jaar gelede getroud is, en die gedagte dat sy nou alleen in die Weskus agterbly, is vir haar erg. “Dis baie moeilik, maar dit was sy tyd gewees. Hoe dit gebeur het, was net baie wreed.”
Sy is egter die Here dankbaar dat sy gespaar is.
Clint laat drie kinders van sy eie, Kyle, Keenan en Kezia, agter. Hy het ook ’n goeie verhouding met Lisle se seuns, Jared en Dudley Titus, gehad.
’n Roudiens vir Clint is Woensdagaand 17 April gehou.
Die polisie het bevestig dat niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.





