Lu-Sheal Titus is trots op wat sy tot dusver bereik het.


Hoe draai ’n mens jou moeilike omstandighede om in iets positief? Hoe klim jy en maak dit tot bo die berge van struikel wat voor jou lê?

Maklik – dit begin met ’n positiewe uitkyk op die lewe, glo Lu-Sheal Titus, en dis presies wat sy gedoen het.

Grootgeword in ’n eenvoudige tweevertrekhuisie met kommer oor geldsake en swaarkry is van die uitdagings wat Lu-Sheal moes teëwerk.

Dié 22-jarige van Porterville het nie toegelaat dat haar omstandighede haar pootjie nie. Met ’n positiewe gesindheid, deursettingsvermoë en veerkragtigheid het sy haar driejaar-kursus in finansiële en risikobestuur by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Distrik 6-kampus voltooi en haar diploma by die gradeplegtigheid verlede Maandag (22 April) ontvang.

Lu-Sheal het nie soos ander matrikulante die voorreg gehad om ná haar matriek­eindeksamen ’n bietjie haar skoene uit te skop en te ontspan terwyl sy op haar uitslae gewag het nie. Sy moes inspring en die familie help om die pot aan die kook te hou.

Sy moes douvoordag saam met haar ma die pad vat om op ’n boer se plaas te gaan werk.

“In Porterville is dit partykeer so intens warm dat ek dikwels wou tou opgooi en soms gewonder het hoekom God my hierdeur sit,” vertel Lu-Sheal.

Die swaarkry was egter haar dryfkrag.

“Ek het probeer positief kyk na als. Die klein huis het gemaak dat familietyd meer kosbaar geword het; die dinge wat ek graag wou koop of gedink het is nodig, was glad nie so broodnodig nie – I survived without it. Ek dink om jou ingesteldheid te verander en hoe jy na dinge kyk, help so baie. En ek glo dis wat my gehelp het – om nie toe te laat dat dinge my onderkry nie.”

In die klein huisie het die kombuistafel oor die jare haar beste vriend geword. “Want sien, by hierdie tafel word gekook, geëet, gebid, geskryf en dikwels gehuil ook.”

Lu-Sheal se studiejare was ’n rollercoaster ride, soos sy dit beskryf, maar tog die moeite werd. “Daar was dae dat ek net wou opgee, want niks wou regkom nie. Die werk het moeilik gevoel, die koskaste was leeg en ek het geweet ek kon nie juis huis toe bel vir hulp nie, want net my pa het die meeste kere gewerk, en hulle moes ook eet en oorleef. Ja, my ouers het altyd gehelp wanneer ek gevra het, maar ek sou liewer stilbly as om hulp te vra.”


Toe dit begin lyk asof sy haar droom om ná skool te gaan studeer eers opsy sou moes skuif, het ’n deur vir haar oopgegaan toe sy ’n beurs van die Weskus-distriksmunisipaliteit vir haar eerste studiejaar ontvang het. Sy was uit die veld geslaan toe sy as een van vyf belowende studente ’n R10 000-beurs van die Kuier-tydskrif ontvang het om vir haar eerstejaar-studies aan te wend.


“Dankbaarheid is wat ek toe gevoel het, en daai geld het so baie gehelp, want ek kon my ouers met dinge in die huis help, ek kon my boetie en sussie bederf en ook handboeke vir my studies koop. Daai beurs het dinge soveel makliker gemaak as ’n eerstejaarstudent wat nog haar voete moes vind.”


Lu-Sheal kon uiteindelik


die res van haar studies met behulp van ’n NSFAS-beurs voltooi.


Deur alles waardeur Lu-Sheal is, kan sy met trots getuig dat haar familie haar grootste ondersteuners was en steeds is.
“Ek dank net Pappa Jesus dat Hy ons aan mekaar toevertrou het, want ek kon nie vir beter vra nie.”

Haar groot droom is om eendag ’n entrepreneur te word, maar sy sal enige kantoorwerk waardeer as die geleentheid haar aangebied word om verder te groei.

Lu-Sheal sien haarself in die toekoms as ’n gelukkige vrou – gevestig en finansieel vry. “Ek wil leef sonder om te stres hoe ek vir iets moet betaal. Ek wil graag ’n besigheid of twee van my eie bestuur, as dit die Here se wil is, natuurlik. Ek wil ’n beter lewe vir my familie ook voorsien.”

Lu-Sheal herinner almal om God eerste te stel in alles wat hulle aanpak. “Moet nooit moed verloor en ophou hard werk nie. Dinge kan en gaan soms moeilik word, maar hou goeie moed en bly gefokus op dit waarna jy streef; jy gaan uiteindelik daar uitkom.”

Al het Lu-Sheal in ’n eenvoudige tweevertrek-huisie grootgeword, was dit ’n huis vol liefde, ondersteuning en motivering. Haar lewe is ’n getuienis dat niks ontmoontlik is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article