‘n Argieffoto van die Vredenburg rugbyklub


Boland-rugby se Grootuitdaagbeker-toernooi keer die naweek terug, met spanne wat hul eerste ronde sal voltooi.

Met slegs vier punte wat die voorste vier spanne skei, kan ondersteuners die naweek vuurwerke verwag. Saldanha, wat reeds sy eerste ronde voltooi het, is ’n enkele punt voor Vredenburg se Burg Boys.

St. Helenabaai beklee tans die derde plek, twee punte agter Saldanha, met Paternoster vier punte agter die voormalige Boland-kampioen.

Vredenburg pak Paternoster Saterdag op sy tuisveld. Vredenburg sal met ’n oortuigende oorwinning die nuwe pasaangeërs kan wees en die tweede ronde met meer selfvertroue aanpak. Paternoster het op sy beurt met ’n wiskundige kans self sy visier op die eerste plek.

LEESPaternoster vee Rhino’s van veld

St. Helenabaai is egter die gunsteling om ná die naweek die eerste plek te beklee. Die Agterbaaiers reis die naweek na Mamre om die Groentruie van Kenny Stadler te pak. Stadler en sy troepe is die verdedigende Weskus-streekkampioen en kan dalk die kaarte heeltemal deurmekaar krap.

Mamre, Steenberg’s Cove, Velddrif, Young Hearts

Mamre, wat drie wedstryde gemis het weens sy skorsing, sal egter die wedstryd wil gebruik om weer momentum te bou in die hoop vir die top-12 later vanjaar en kan met ’n bonuspuntwen twee plekke opskuif.

Steenberg’s Cove, wat in sy vorige wedstryd op sy tuisveld Saldanha geskok het, pak Velddrif in die Agterbaai. Cove kan met ’n sege nog een plek opskuif, indien Hopefield op sy tuisveld teen Langebaan vasval.

Velddrif, wat ook sy posisie op die punteleer sal wil verbeter, moet egter met Cove afreken, wat heel onwaarskynlik, maar tog moontlik, is.

Young Hearts, wat tans sewende op die punteleer is, is een punt agter Cove. Ruben Abels se troepe kan met ’n goeie oorwinning in Piketberg ook weer sy hand opsteek. Abels sal hoop Langebaan en Velddrif vermag die onmoontlike, wat die span van die grafkelder dan twee plekke kan laat opskuif. Young Hearts sal egter ook sy kant moet bring en slegs ’n bonuspunt-oorwinning sal goed genoeg wees. Piketberg, wat tans laaste op die punteleer is, sal dit nie baie maklik vir die besoekers maak nie.

Die naweek se program:

Vredenburg t. Paternoster; Mamre t. St. Helenabaai; Piketberg t. Young Hearts; Hopefield t. Langebaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article