’n Plaasboer van Porterville moes toekyk hoe ’n man voor wie hy grootgeword het en vir wie hy baie lief was aan meswonde beswyk. Die dokter op bystand by die plaaslike hospitaal kon nie opgespoor word nie.
Hugo Lambrechts van die Halfmanshof-boerdery tussen Porterville en Saron se meisie het hom omstreeks 02:00 Maandag 1 Julie wakker gemaak omdat iemand voor hul hek getoet het.
Teen die tyd dat Lambrechts na buite is, het die motor reeds weggery. Hy het dit agternagesit en gesien dit is Barbara Nel (63), vrou van die plaasbestuurder Gerhard Nel (65) van die Tevrede-plaas daar naby.
Dié plaas behoort aan die Lambrechts’e, maar Gerhard het al die boerdery-aktiwiteite op die plaas hanteer.
Barbara het aan Lambrechts gesê dat vyf rowers haar en haar man in hul huis aangeval het en dat Gerhard verskeie kere gesteek is.
Die rowers het ’n gat onderdeur die elektriese heining gegrawe en daardeur toegang tot die perseel verkry. Lambrechts vermoed dat hulle vroeër die aand aan die gat moes begin grawe het voordat hulle daardeur sou kon kom.
Die Nels het omstreeks 22:30 van ’n kuier by familie teruggekeer.
Die rowers het stil-stil ’n ruit by ’n ander kamer uitgehaal en by die huis ingekom.
Ses keer gesteek
Hulle het die egpaar oorval en Gerhard herhaaldelik gesteek. Barbara is vasgebind, maar nie seergemaak nie.
Die rowers het die egpaar in die slaapkamer toegesluit voordat hulle met vier vuurwapens en selfone gevlug het.
Gerhard het Barbara gehelp om los te kom waarop sy die kamervenster gebreek het om te ontsnap. Hierna het sy ’n voorste venster van buite gebreek om by die voertuigsleutels in die huis uit te kom sodat sy hulp kon gaan kry.
Lambrechts het met sy aankoms by die Nels se huis die kamersleutel voor die kamerdeur gekry en dit oopgesluit. Hy het die bebloede Gerhard tot in sy motor gehelp en met hom na die hospitaal op Porterville gejaag. Gerhard is twee keer in die nek, drie keer in die rug en een keer in die bors gesteek.
By die hospitaal moes hulle hoor dat die personeel nie die dokter op bystand kon opspoor nie. Lambrechts het ook tevergeefs probeer en later na haar by die huis gaan soek.
’n Familievriend het intussen gery om ’n ander dokter wat nie aan diens was nie by haar huis te gaan soek, maar dié dokter het geweier om uit te kom om te help.
Geen dokter by hospitaal
Met Lambrechts se terugkeer by die hospitaal is hy ingelig dat Gerhard intussen oorlede is. Die egpaar het vier kinders.
Lambrechts beskryf die traumatiese gebeure as verskriklik. Hy was baie na aan Gerhard en sê dat dit die laaste mens was met wie hy ooit kon dink só iets sou gebeur.
“Hy sou nie ’n vlieg skade aandoen nie. Hy was altyd bereid om almal te help en was altyd beskikbaar vir almal op die plaas. Hy was net altyd daar.”
Die Lambrechts’e boer met skape en beeste.
Volgens Lambrechts was daar geen voorvalle met werknemers of sulke situasies wat dalk tot só ’n aanval kon lei nie. Hy het beklemtoon dat daar nie rondgaande werkers of uitlanders op die plaas werk nie.
Die motief blyk roof te wees.
Volgens Leensie Lotter, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het die verpleegpersoneel aan diens Gerard onmiddellik gehelp, terwyl hulle die dokter op roep probeer kontak het.
Weens beperkte personeel mag die dokter op bystand die perseel verlaat mits hulle bereikbaar is en binne 15 minute by die hospitaal kan wees vir noodgevalle.
“Die hospitaalbestuur ondersoek tans waarom die dokter op roep nie bereik kon word nie. ’n Deeglike interne ondersoek na die voorval sal gedoen word en korrektiewe stappe sal geneem word, indien nodig.”
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisie, ondersoek die eenheid teen georganiseerde misdaad die saak verder.
Niemand is nog weens die voorval in hegtenis geneem nie.
Billy Claasen van die landelike en plaaswerkers-ontwikkelingsorganisasie het die aanval en moord op Tevrede ten sterkste veroordeel. “Dit is ’n barbaarse aanval op ’n lid van die landbougemeenskap van ons pragtige streek.”
Hy verwelkom die vinnige reaksie van die Porterville-polisie, omliggende boere en veiligheidsmaatskappye wat soekgroepe georganiseer het om die polisie te help om die verdagtes te soek.
Claasen doen ’n beroep op die polisie om geen steen onaangeroer te laat om die verdagtes op te spoor nie.




