Weslander het vanjaar by Boland Media se Excellence-prysuitdeling, wat Vrydag (5 Junie) in Stellenbosch gehou is, oorheers.
Boland Media sluit koerante soos Paarl Post, Distrikspos & Helderberg Gazette, Eikestadnuus, Hermanus Timesen Standard & Breederivier Gazettein.
In die diensafdeling het Linda Luyt, ontvangsdame en verkoopsagent van geklassifiseerde advertensies, die prys vir diensuitnemendheid gekry omdat sy “ ’n staatmaker is soos min, aan elke front”. “Met ’n ‘hartlike goeiemôre’ begroet sy kollegas en kliënte wat instap en luister na elkeen met geduld. Sy doen dit alles met die grootste glimlag, deernis en vriendelikheid.”
Daar is ook verwys na nuwe uitdagings wat sy in volle vaart aanpak, al is dit soms buite haar gemaksone.
Linda het ook haar langdienssertifikaat vir 25 jaar by dié geleentheid gekry. “Ná 25 jaar diens is dit wonderlik om te sien hoe Linda haarself verskerp met kennis en vaardigheid en aanhou groei in haar rol.”

Die uitgewer Stefan Kolver is as Mensebestuurder van die jaar aangewys. “Hy is die man met die plan. Met sy logiese denke, vindingryke inisiatiewe en kalmte . . . stuur hy altyd die skip na veilige waters, maak nie saak wat die uitdaging is wat sy span ervaar nie.” Stefan werk op grondvlak saam met elkeen in sy span en bied die nodige leiding en ondersteuning terwyl hy die vryheid gee om hul eie verantwoordelikhede te bestuur en idees die lig te laat sien. “Hy staan altyd reg met ’n gewillige oor om enige kwessie wat opduik, met regverdigheid en menslikheid aan te pak.” Stefan maak ook seker die personeel handhaaf ’n goeie balans tussen werk en persoonlike welstand om hulle gemotiveerd te hou.
In die redaksionele toekennings, wat deur Bettie Gillioumee-Rossouw, Lientjie Mentz en Theresa Olivier beoordeel is, is Alida Buckle vir drie uit vier toekennings as wenner aangewys.

As Boland Media- Joernalis van die Jaar skryf die beoordelaars dit is duidelik dat Alida oor ’n verskeidenheid kan skryf – van ’n “baie deeglike storie” oor die vervalle toestand van die hof tot ’n “uitstekende” resensie oor ’n aktrise se boek, waaroor een beoordelaar skryf: “Ek wou hierdie artikel lees tot die einde, en toe wou ek die boek lees.”
Die beoordelaar van die Boland Media-Fotograaf van die Jaar-prys, Dawid Roux, ’n gesoute nuus- en rolprentfotograaf, skryf dat Alida se fotografieportefeulje “pragtige, kreatiewe foto’s bevat”, dat die inskrywing dui op diversiteit en die foto’s aan al die tegniese vereistes voldoen. “Die moeilikheidsgraad was nie ’n probleem vir dié fotojoernalis nie.”
Hy verwys ook na die aksie en presiese tydsberekening wat dui op ’n geoefende oog en merk op dat nie een van die foto’s opgestel is nie, maar regte oomblikke vasvang. “Die beste foto is natuurlik die klassieke rugbyfoto wat min fotograwe regkry om goed vas te vang; selfs die samestelling van die ander spelers het goed uitgekom.”
Alida se portefeulje van stories van menslike belang besorg ook aan haar die prys vir die Human Interest-artikel van die jaar.
Sy was ook ’n finalis vir Hardenuus-artikel van die jaar.
Die redakteur, Maryke Swart, ook ’n finalis vir diensuitnemendheid, verwerf die Media24 Way-toekenning omdat sy “ ’n positiewe en energieke lewenslus het, wat sy sonder baie moeite met ander in die kantoor deel.
“Boonop lewer sy uitstekende resultate.”
Madelie van Tonder, ook ’n finalis vir advertensieverteenwoordiger van die jaar, kry Boland Media se jaarlikse Liquorice All Sorts-prettoekenning. Haar benoemer beskryf haar as dinamies en “net so kleurvol soos ’n pakkie liquorice”. Daar word verwys na die strawwe teikens wat sy najaag en haal, en die kreatiwiteit wat sy aan die dag lê. “Madelie speel graag uit eie keuse fotograaf as nuusgebeurtenisse in haar dorp afspeel en gee ’n helpende hand en bied ’n oor vir haar kollegas en kliënte. Haar passie vir haar produk is aansteeklik.”
Weslander se Chantell Cornelissen was vanjaar een van die aanbieders by die prysuitdeling en die joernalis Noluvu Ludidi het met die grootste gelukstrekking vir die dag weggestap – twee nagte se verblyf by die luukse Stellenbosch Protea Hotel.. Alida is ook aangewys as Boland Media se Digitale joernalis vir die Maand vir Mei, terwyl Noluvu ’n spesiale vermelding gekry het in die afdeling vir joernalis van die maand vir haar berig “Wees positief, al lyk als negatief” oor ’n jong meisie van Porterville wat haar uit moeilike omstandighede deur verdere studies bemagtig het. . Weslander is ook onlangs benoem as ’n finalis in die afdeling vir Koerant van die jaar by die Forum vir Gemeenskapsjoernalistiek se jaarlikse toekennings vir uitnemendheid. Die wenners word op 2 Augustus by die Sandton-hotel in Johannesburg aangewys.






You must be logged in to post a comment.