Van die duur polisietoerusting wat tydens die oorstroming beskadig is.


Sloesh-sloesh . . . Dit is die geluid wat ’n mat maak wat al dae lank sopnat is.

Die dak van die gebou waarin die Vredenburg-polisie gehuisves word, het Woensdagaand 10 Julie plek-plek begin lek en gou strome water laat instroom.

Dat Vredenburg toegewyde polisielede het, is ’n uitgemaakte saak, want ten spyte van ’n ysige wind wat deur ’n venster waai wat op dié tydstip nie toegemaak kan word nie, sit hulle en haal werk in. “Want dit is net ons wat dit kan doen.”

Die polisiekantoor was vir ’n dag gesluit nadat water op verskeie plekke in kantore en store opgedam het.

Plassies water het Maandag met Weslander se besoek weer in die gange gelê, selfs nadat water al opgevee is.

Die beamptes wie se kantore droog is, deel nou hul werkruimte. Verskeie afdelings werk in die speurders se kantoor.

Maar, o wee, die reuk. Die muwwe, vergete-nat-wasgoed-reuk hang deur die hele gebou. Dit trek selfs nie-asmatiese mense se bors toe.

Die voortdurende reënweer sedert die stortreën verlede week beteken ook dat die matte nie kans kry om uit te droog nie.

Verskeie store wat van dossiere tot duur toerusting en verkragting-toetsstelle huisves, was ook onder water.

Die publiek word tydelik bedien by ’n mobiele aanklagkantoor wat voor die gebou staan. Dié mobiele kantoor is koud en daarom het die Vredenburg-gemeenskapspolisiëringsforum ’n olieverwarmer geleen om dit meer leefbaar te maak.

Die gebou behoort aan ’n private trust wat wel ’n paar manne gestuur het om die water uit die matte te probeer suig, maar die mufreuk gaan moeilik verdwyn. Die matte sal heel waarskynlik vervang moet word.

Teen druktyd is nog hard gewerk om die dak en die elektriese bedrading te herstel.

Kol. André Traut, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het in reaksie op navrae verduidelik dat die departement van openbare werke en infrastruktuur die gebou namens die polisie huur. Hy het vrae oor die skade aan die gebou en die huurkontrak na dié departement se kommunikasiebeampte verwys.

Lennox Mabaso, ’n woordvoerder vir die departement, het verduidelik dat sy departement eers die omvang van die skade sal moet bepaal en na die eienaar se instandhouding van die gebou kyk voordat hy volledige terugvoer kan gee.

Traut het ook gesê die volle omvang van die skade moet nog bepaal word. Hy het benadruk dat, nieteenstaande die skade, die polisiëring van die Vredenburg-gemeenskap nie deur die situasie geraak word nie en beklemtoon die polisie sal nie deur ongelukkige weerstoestande ontspoor word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article