Bouery by Panorama Primêr se nuwe skoolgebou staan al sedert Julie 2023 stil.
Die sloer van die projek het tot baie vrae by gemeenskapslede asook ouers van die skool se leerders gelei.
Volgens Sandra Erasmus, die voormalige voorsitter van die skool se beheerliggaam, het almal uitgesien na die nuwe skoolgebou. Erasmus sê ouers het baie vrae begin stel waarvoor hulle nie die antwoord het nie, juis omdat die projek in die hande van ’n “hoër departement” is en hulle self antwoorde oor die vertraging soek.
“Die nuwe skoolgebou sal vir ons baie waardevol wees – vir leerders sowel as personeel. Die huidige gebou is nie in ’n goeie toestand nie,” sê sy.
’n Ouer wat anoniem wil bly, deel ook dieselfde sentiment. Dié ouer meen die geriewe wat die skoolgebou sal aanbied, sal tot voordeel van almal by die skool wees.
Erasmus meen ook die nuwe gebou sal help met die getal leerders en baie gemakliker wees.
Volgens Jandré Bakker, ’n woordvoerder van die departement van infrastruktuur, het verskeie onvoorsiende uitdagings die projek vertraag.
“Die voorheen aangestelde kontrakteurs [se kontrak] moes beëindig word. Die departement werk daaraan om ’n nuwe kontrakteur te kry om die werk te voltooi. Die regsproses om ’n kontrak te beëindig, het tyd geneem. Omdat hierdie projek as ’n ‘ekstra groot laerskool’ beskou word, is die projek kompleks en dus die lang proses om ’n nuwe kontrakteur aan te stel,” sê Bakker.
Hy voeg by dat die departement aktief betrokke is by die projek en daartoe verbind bly om hierdie noodsaaklike infrastruktuur te lewer aan die gemeenskappe wat dit bedoel is om te dien.
“Die beoogde perseel [se] oorhandigingsdatum is April 2025 en indien dit bereik word, word die voltooiing vir Mei 2026 beraam.”





