Karyke Smit is van Januarie 2025 as permanente skoolhoof van Steenberg’s Cove Primêr aangestel.


Ná byna vier jaar as waarnemende skoolhoof van Steenberg’s Cove Primêr neem Karyke Smit die leisels in Januarie 2025 as dié skool se nuwe hoof amptelik oor.

Hoewel Smit van kleins af geweet het onderwys is die beroep wat sy wou volg, was om skoolhoof te word nooit een van haar drome nie. Dit het egter oor haar pad gekom en mettertyd op haar begin groei. “Ek voel dat ek nie die beroep gekies het nie, maar dat die beroep my gekies het. Toe ek die nuus hoor dat ek van 1 Januarie 2025 af permanent as skoolhoof aangestel is, was dit vir my ’n bevestiging van God dat dit die pad is wat Hy vir my uitgelê het,” vertel Smit.

Sy het haar skoolloopbaan in 2005 aan die Hoërskool Vredenburg voltooi en daarna by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie in Wellington gaan studeer.

Sy het teruggekeer Weskus toe en het ’n jaar by Langebaan Primêr skoolgehou en daarna vier jaar by H.P Williams Primêr. “Ek het egter op ’n wonderbaarlike manier in 2015 by Steenberg’s Cove Primêr geëindig vir my eerste permanente departementele pos. Hier was ek vier jaar ’n posvlak 1-onderwyseres, voordat ek in 2019 as departementshoof begin waarneem het.

“Voordat die departementshoofpos nog afgehandel kon word, is ons geliefde hoof, Anthony Muller, vroeg Februarie 2021 oorlede en skielik is ek as waarnemende skoolhoof van Steenberg’s Cove Primêr aangewys.”

Met ’n bekwame span agter haar het hulle saam die diepe waters aangepak om die skool aan die swem te hou.

Soos enige onderwyser is daar vele hoogtepunte. Vir Smit is dit om die leerders na sporttoernooie en sportbyeenkomste te vergesel en die geluk, die genot op hul gesigte te sien en selfs om soms ook saam met hulle deur teleurstelling te werk.

“Die gevoel van trots wat jy as onderwyser by sulke geleenthede ervaar, is iets wat jy nie aan ander kan beskryf nie.

“Nog ’n jaarlikse hoogtepunt is Steenberg’s Cove se matriekgeselligheid. Ons nooi elke jaar ons leerders wat in matriek is na ’n geleentheid en vereer hulle en wens hul sterkte toe met hul laaste eksamen. Om oudleerders te sien presteer, in watter veld ook al, is ’n riem onder die hart, veral as hulle voel juffrou moet dit weet. Vir my is dit elke keer ’n hoogtepunt as iemand iets mooi of positief oor ons leerders of skool sê.”

Drome

Smit sê haar droom vir die skool is dat Steenberg’s Cove Primêr altyd ’n baken van hoop en liefde vir die leerders en gemeenskap sal wees en bly.

“Ek droom dat leerders en personeel daagliks met ’n goeie gemoed, ’n wil om te leer en ’n positiewe gees skool toe kan kom. Ek droom om waardegedrewe leerders die wêreld in te stuur en ’n lig te wees waar hulle ook al kom.

Boodskap

“Aan Steenberg’s Cove Primêr se ouers – dankie dat julle my toelaat om jul kinders ook my kinders te maak. Dankie vir jul liefde en ondersteuning. Kom ons hou aan om ons kinders te koester.

“Aan Steenberg’s Cove Primêr se leerders – julle is my die heel beste. Julle is die rede hoekom ek elke dag my beste vir ons blou skooltjie gee. Dankie vir die respek wat julle vir my het. Droom groot – niks is onmoontlik nie; juffrou is baie lief vir julle.”

Smit bedank ook die skoolpersoneel en haar gesin en familie wat haar altyd 100% ondersteun. Sy is opgewonde vir wat die blink toekoms inhou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article