Vir Thiedu du Preez, ’n gr.11-leerder aan die Hoërskool Vredenburg, is dit ’n voorreg om sy skool, dorp en land te verteenwoordig by ’n internasionale wetenskap-ekspo in Turkye.
’n Vaarwel-geleentheid is Donderdag 21 November gehou om Du Preez by die Izmir International Innovation Science Energy Engineering Fair sterkte toe te wens.
Die kompetisie begin vandag (Donderdag 28 November) en duur tot Dinsdag 3 Desember.
Du Preez vertel dat sy liefde vir wetenskap in 2021 tydens die Covid-19 tydperk begin het. Hy het in gr.8 besluit om aan die Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes deel te neem.
“Wat begin het as ’n projek tydens die inperking het onverwags tot my eerste medalje gelei. Die gogga het gebyt en ek het die volgende jaar weer ingeskryf, in ’n ander kategorie. Hierdie jaar was my vierde agtereenvolgende jaar. Ek is elke jaar gekies om deel te neem aan die International Science Fair in Johannesburg en is uiteindelik vanjaar gekeur om my projek oorsee te gaan voorlê. Soos my selfvertroue gegroei het met elke deelname, het ek ook meer en meer geïnteresseerd geraak in wetenskap en navorsing en ek beoog ’n loopbaan met dit as agtergrond.”
Du Preez sê die geleentheid maak baie deure vir hom oop, veral omdat hy met talle ander jong wetenskaplikes, wat ook ’n passie vir wetenskap het, sal kan meng. Dié jong man sien daarna uit om nuwe leerders te ontmoet wat moontlik kan lei tot lewenslange vriendskappe.
“Ek sien ook daarna uit om tydens die spesiale kulturele geleentheid mense van verskillende kulture te ontmoet, Turkse kos te eet en kosse van ander lande oor die wêreld heen te proe. By die geleentheid leer ons mekaar ken en kry ons ook die geleentheid om Suid-Afrika aan die ander deelnemers bekend te stel. Ons gaan ook op talle uitstappies om die stad te verken.
“Die belangrikste is egter om my projek aan internasionale beoordelaars te kan voorlê.”
Du Preez bedank die Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes vir die geleentheid om vir vier jaar te kon deelneem, asook sy skool wat hom die geleentheid gebied het om te kon deelneem en sy uitstekende wetenskap- en lewenswetenskap-onderwysers wat die fondasie vir sy belangstelling gelê het.
“Ek wil ook ander leerders aanmoedig om deel te neem en deel te word van die ervaring.” voeg hy by.





