Weslander se span is nog ’n keer om die son.

Ons staan op die vooraand van ’n langverwagte Desember-ruskans, met ons laaste uitgawe vir die jaar wat vandag, Donderdag 19 Desember, die rakke tref. Dit was ’n propvol nuusjaar met ons redaksiespan wat weer ’n keer die voorreg gehad het om oor die afgelope twaalf maande stories uit die gemeenskap met ons lesers te deel, hetsy goed of sleg. ’n Opsomming van stories wat ons vanjaar sal bybly, is op bll. 4 en 5 saamgevat.

Op ’n persoonlike noot moes Weslander se personeel by tye vanjaar die skip deur ongekende waters stuur, en sluit ons dus die jaar met ’n nederige dankbaarheid af.

Die besluit om in Junie ons omslagprys na R4 te verlaag terwyl die meeste koerante se omslagprys jaarliks opwaarts aangepas word, was ’n waagkans wat vrugte afgewerp het. Ons kan met trots sê dat Weslander een van min koerante te koop is wat met ’n groei in sirkulasie oor die afgelope paar maande kan spog.

Die aankondiging vroeër vanjaar deur Media24 dat hy sy portefeulje van 37 gemeenskapskoerante, waaronder Weslander, aan Novus Holdings wil verkoop, is aanvanklik met onsekerheid begroet. Die transaksie is in November bekragtig, wat gemeenskapskoerante in ’n gunstige posisie plaas. Die oorgang na Novus Media, die gemeenskapsnuusafdeling, bied verskeie opwindende geleenthede, wat ons in staat stel om uit te brei terwyl ons getrou bly aan ons wortels as die stem, ore en oë van die gemeenskappe wat ons dien.

Ons sien uit om die nuwe jaar saam met ons lesers en adverteerders in te stap en nog hoogtes te bereik. Ons wens ’n ieder en ’n elk ’n feestelike en veilige feestyd toe. Tot 2025!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article