Is jy ’n held of word jy onder dieselfde kam as ’n misdadiger geskeer wanneer dit kom by die reg in jou eie hande neem – by eiereg? Groot omstredenheid heers oor die onderwerp “vigilante”-geweld.
Oor die Weskus heen, soos in ander dele van die land, is inwoners moeg vir die aanhoudende misdaad wat hul gemeenskappe ruk. Ons is vasgevang in ’n desperate situasie waar baie voel geregtigheid neem nie sy koers nie en niks word gedoen om misdaad te voorkom nie. Hoekom sal ons nou nié die reg in eie hande neem en eiereg gebruik nie?
Ons sien so ’n geval hier in die Weskus afspeel toe ’n polisiesersant en pastoor in korrektiewe dienste in Piketberg verlede week besluit het dat genoeg nou net mooi genoeg is en hulself “aangestel” het om die reg te handhaaf en twee vermeende kerkdiewe ’n les wou leer. Dié twee is glo aangerand en het dit gelukkig oorleef. Maar so vinnig kan alles heel anders uitdraai en lelik handuit ruk. Daar is wel simpatie vir die moeilikheid en hartseer wat ons as Weskussers ondergaan, maar wanneer is genoeg net mooi genoeg? Gee ons op, bly ons geduldig en vertrou die regsproses, of doen ons iets aan die situasie?
Hoe beveg jy vuur met vuur en verwag ’n positiewe uitkoms?
As jy mooi oor eiereg dink, is dit makliker gesê as gedaan.



