Ek wil opreg vertrou en glo dat hierdie afgelope feestyd vir jou ’n goeie ervaring was. Ek hoop daar was genoeg vir almal om te eet en dat jy selfs ietsie oorgehad het vir die vreemdeling wat dalk aan jou deur kom klop het. En as jy iewers heen gereis het, hoop ek dat jy ’n veilige rit na en van jou bestemming gehad het. Vir dié van ons wat die feestyd tuis deurgebring het wil ek ook vertrou dat dit ’n onvergeetlik lekker veilige tyd vir jou was.

Ek deel die voorafgaande wense, want ons weet maar al te goed dat dit nie altyd die geval is vir almal van ons nie. Dis vir my altyd die slegste deel van die feestyd as die syfers oor padsterftes hier reg aan die begin van ’n nuwe jaar in die media gedeel word. Nog ’n hartseer fenomeen wat in hierdie tydperk die kop uitsteek, is die hordes gevalle van gesins- en geslagsgebaseerde geweld weens alkoholmisbruik. ’n Mens wonder onwillekeurig wanneer die prentjie meer positief in ons land sal verander en of dit enigsins ’n haalbare moontlikheid is.

Die feestyd het gekom en gegaan en almal is weer in afwagting van ’n jaar vol lekker tye, uitdagings – soms hartseer tye – en ook daardie onverwagse verrassing wat die nuwe jaar kan oplewer. En of jy nou gereed is vir die nuwe jaar of nie. . . hy’s hier om vir die volgende klompie maande by jou te kom nesskop. En as van die slegte gebeure van die ou jaar nog by jou spook, dan beter jy dit vinnig afskud, want die aanloop en verloop van ’n splinternuwe jaar is op ons. Is jou tas gepak met alles wat jy nodig kan hê om die nuwe jaar met ’n huppel in die stap tegemoet te gaan?

Hoop jy hoor my hard en duidelik dat ek nie vra wat al jou persoonlike voornemens vir die nuwe jaar is nie. Daar is dié van ons wat meesters is op die gebied van doelwitstelling vir ’n nuwe jaar, en as jy hier in die helfte van die jaar kom, dan is al daai doelwitte in elk geval vergete, want soveel nuwe uitdagings en krisisse het al weer oor jou pad gekom. Vir dié van ons wat wel daai twee of drie groot doelwitte getrou najaag en dit ook gaan bereik, wil ek sommer nou al baie geluk sê, want dit verg nogal deesdae baie om die eenvoudigste paar doelwitte met die bronne tot jou beskikking te bereik. Daar is baie van ons wat net ’n jaar wil oorleef en in staat wees om die monde by die huis te kan voed en so dan en wan ’n vleisie oor die kole te kan gooi. Daarmee is daar glad nie fout nie.

Ek het hier in die feestyd ’n draai op die strand gaan loop; dis een van my gunsteling- doendinge. Voor my het daar ewe skielik ’n prentjie afgespeel wat ek vir altyd sal onthou. Daar was ’n pa met sy seun van so om en by sewe jaar oud.

Elkeen het ’n visstok in die hand gehad. Met baie liefde en geduld het die pa sy seun gewys hoe om aas aan die hoek van die visstok te sit. Hy het ook vir sy seun gewys hoe om die vislyn in die seewater te gooi. Op sy manier het die seuntjie die vislyn ingekatrol om seker te maak of sy stukkie aas nog daaraan is. Daar was pure opgewondenheid elke keer as die seuntjie ’n sekere takie van die pa-en-seun-uitstappie kon regkry. Dit was vir my so mooi om te aanskou.

Wat het op daardie oomblik deur my kop gemaal? Wel, as ons net soos hierdie pa by ons gesin kan begin en gehalte-tyd saam met hulle in die nuwe jaar deurbring, dan het ons al een van ons groot doelwitte vir die jaar bereik. As ons daarin kan slaag om ons gesin veilig te hou en ten alle koste te beskerm, dan het ons nog ’n groot doelwit vir hierdie jaar bereik. En as jy bevoorreg is om hierdie jaar ’n voltydse werk te hê om sodoende vir jou gesin te kan sorg, dan pleit ek by jou om daardie werk te behou, want daar is soveel wat nie die voorreg het nie.

Vir die jaar wat voorlê . . .

Leer nuwe dinge, maak dinge eenvoudig vir jouself en ander, doen en dink positief, eet gesond, kuier met lekker mense, wees dankbaar, gaan stap in die natuur, luister gereeld na jou gunstelingmusiek, slaap genoeg (nie te veel nie), rus en mediteer en wees deel van die oplossing en nie die probleem nie.

Beskerm jouself teen ongegronde vrese, kyk minder nuus, hou op stres oor die geringste goedjies, eet minder gemorskos, hou op om jouself te kritiseer, dis nie nodig om jou te oorwerk nie (jy’s maklik vervangbaar), hou op in die verlede leef, stop negatiewe denkpatrone, hou op om dinge uit te stel wat belangrik is vir jou volgehoue groei en ontwikkeling en poog om te alle tye verantwoordelik op te tree.

Mooiste wense vir 2025!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article