Ai, dis al weer daai tyd van die maand. Dis weer net rooi hartjies, rooi rose en bokse tjôklits met fraai rooi linte netjies rondom dit gedraai, want dis Valentynsmaand.

Het jy reg gehoor? Valentynsmaand – nie slegs Valentyns­dag nie.

’n Mens het nog nie eens behoor­lik herstel van die feestyd se finansiële skade wat aangerig is nie en hier moet die liefde al weer gevier word. Genadetjie tog . . . met geld wat waarvandaan moet kom? sal party van ons seker wonder.

Met die klem op die maand van liefde is die druk net soveel erger, want jy hoor net klein skimpies van jou maatjie se kant om tog net ietsie van die mooi in rooi te wil hê! Groot is my blydskap saam met dié wat onder die gelukkiges tel wat die maand van liefde saam kan vier – met of sonder ’n oulap se rooi. My hart gaan egter uit na die oujongnooiens, oujongkêrels, alleenlopers en bittereinders steeds op soek na daai deksel vir sy of haar pot.

Foeitog, vir diesulkes is die maand van liefde geensins ’n tyd van die jaar om na uit te sien nie. Een ou het sommer onlangs geskerts dat hy seker maar ’n koekblik is waarvan die koekies lankal opgeëet is en die deksel tussen al die Tupperware-bakke verlore geraak het. Dis omtrent ’n soektog na die liefde hier buite. Deesdae raak die humor oor daai soektogte al meer en nie minder nie.

Party mense wil sommer geld maak uit die hele storie. Dis iets in die lyn van ’n huurooreenkoms vir Valentynsdag met selfs pakkette wat jy kan kies! Huur ’n Valentyn vir ’n bossie rooi rose en ’n dramatiese openbare “Be my Valentine” vir ’n sekere bedrag. Huur jou Valentyn vir handjies vashou en ’n romantiese ete (waarvoor jy moet betaal) vir ’n paar honderd rand meer. En as jy dit wil verder neem en die aand met Brian McKnight in die agtergrond jou dag op ’n hoogtepunt wil afsluit, dan sal jou hart en jou beursie sterk moet staan. As jy die volle pakket wil neem, beter jy seker maak jy kry waarde vir jou geld uit daai ooreenkoms!

Natuurlik kry jy mos ook enkellopendes wat nie die hand in die sak wil druk en uithaal en wys nie. Diesulkes sal eerder daai Valentynsdag-goedjies self koop en sommer ’n okkasie daarvan maak en die nuus met almal op sosiale media deel!

Ek’s my eie Valentyn en eet my eie tjoklits smaaklik op. Dis lek­ker om te weet dat die era waarin ons leef, dit vir mense makliker maak om sommer met hulself die gek te skeer. Moet tog nie diesulkes kwalik neem nie, want onthou, daai pot se boom is dalk al aangebrand.

Terug na die gelukkiges wat die dag van rooi en mooi met ’n maatjie kan deel – ek hoop dat die liefdesvlammetjies nog hoog genoeg brand en dat jy darem nog met jou tortelduifie kan flirt soos jy dit destyds gedoen het. En al het jou sespak-maag oornag in ’n doedelsak verander, hoop ek dat jy haar nog vir ’n paar vasdansnommertjies in jou sitkamer kan vat. En vir ons liewe vroue wat oor die jare daai ekstra rolle om die maag en heupe opgetel het, wil ek tog mooi vra om nie van die stomme man te verwag om jou soos op jul troudag oor die slaapkamerdrumpel te dra nie. Onthou, daai man het elke greintjie energie nodig om jou dag en aand spesiaal te maak . . . al moet die blou pilletjie ook ingespan word!

Vir ons jong getroude paartjies wat al drie of vier snotneusies agter die blad het – hou tog matigheid voor oë. Het jy gesien wat kos die Kimbies deesdae? Ja, ek weet as sy daai rooi nommertjie van haar dra, klop jou hart weer soos ’n nuwe Chinese boombox, maar hou jou in en dink aan die speelskooltjie se rekening wat al weer op pad is. En as liefie haar heupies so geniepsig heen en weer swaai, maak eerder ’n kreatiewe plan om haar te wys wie is nog steeds die ridder oppie wit perd.

En vir dié van ons wat steeds net droom om uiteindelik daai deksel vir jou pot te vind, kan ek seker maar net sê “sterkte”. ’n Mens weet nooit wat die dag of maand oplewer nie. Gooi maar weer jou CV in, voer maar weer daai onder­houde. Kry jou kortlys agter mekaar. Wie weet, jy kan dalk net die geskikte kandidaat vir jou Valentynsdag-vakature kry. Maak net seker hy of sy pas by die posbeskrywing. En as jy moet . . . gaan daai twee of drie verwysings na. Ek meen maar, jy wil nie later met ’n Ben-10 opgeskeep sit vir wie jy elke tweede dag data en energie-drankies moet koop nie.

En vir ons wewenaars en weduwees in hul senior jare? Ons dink ook aan julle. As die bloed in die are nog warm klop, hoekom dan nie nog daai laaste paar kilometers einde se kant toe met vreugde tegemoet gaan nie? Drink tog net maar die ou hartpilletjies en al die ander kroniese goeters, want dis selfs moontlik om die ewigheid met ’n tevrede glimlag op die gesig in te gaan. Wees waaksaam.

Vrolike liefdesmaand vir jou!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article