Die langverwagte rugbyseisoen van die Sanlam Boland-rugbyunie begin op 8 Maart in alle uithoeke van die Bolandstreke en ondersteuners kan na ’n opwindende 2025-rugbyseisoen uitsien.
Agt nuwelinge maak hul verskynings in die Grootuitdaagbeker-kompetisie: McGregor, Toupark (Langeberg), Elandsbaai (Noordweste), Voorberg (Swartland), Sea Hawks, Universals Standford (Overberg), Goedverwacht (Weskus) en Villagers Newton (Witsentraal).
Mamre skuif weer terug na die Swartlandstreek ná ’n afwesigheid van meer as agt jaar toe die Swart-Weskus in twee streke verdeel is en hulle na die Weskus verskuif is.
In die voorseisoense wedstryde het die Weskusspanne gewys dat hulle slaggereed vir die nuwe seisoen is.
Die 2024-kampioen, Vredenburg, sal beslis weer sy stem dik maak in die liga, maar kan strawwe mededinging van onder meer Saldanha (naaswenner 2024), Paternoster, Langebaan, St. Helenabaai en Young Hearts (Pella) verwag.
. Wedstrydbepalings vir ligaverpligtinge (8 Maart):
Vredenburg t. Goedverwacht (nuweling), Saldanha t. Piketberg, St.Helenabaai t. Steenberg Cove, Paternoster t. Langebaan, Hopefield t. Velddrift. Young Hearts (Pella) het ’n loslootjie.
. Swart-Weskus-Streekuitdaagbeker:
Flying Eagles t. Malmesbury, Coronations t. Universals, Koringberg t. Young Tigers, Saldanha Tigers t. Mountain Eagles en Zebras t. Young Eagles. Broodkraal het ’n loslootjie.



