Hoewel pelagiesevis-treilers tans in St. Helenabaai se hawe geanker lê, is dit die snoekbote wat die meeste bedrywig is. Die sterk snoekloop bring werk en inkomste vir vissermanne, handelaars, smouse en ander rolspelers in die bedryf.
Volgens verskeie betrokkenes is dit een van die beste snoekseisoene in jare. Charl Victor, ‘n snoekhandelaar van Mosselbaai, beskryf dit as die beste seisoen wat hy in twaalf jaar beleef het.
Vir Maxine Kanow van St. Helenabaai beteken die goeie vangste ‘n welkome inkomste, terwyl Charlie van Blerk van Saldanha sê die volop sardyne in die baai help om die snoek te lok.
Die uitgerekte snoekloop bevoordeel ook klein ondernemings in die hawe. Gary Holtzman sê dit skep werk en sit brood op talle tafels, terwyl Gamat Rajab, wat sout en vrugte verkoop, dit as die beste seisoen in ‘n lang tyd beskryf. “Die Here is goed vir ons almal,” sê hy. “Ons kan dit byna nie glo nie.”






