Elize Boshoff met die Waardes vir Woelwaters­werkboek en handleiding waaraan sy en haar mede-waardeprojek-lede die afgelope 18 maande gewerk het.

Waardes vir Woelwaters

Elize Boshoff met die Waardes vir Woelwaters­werkboek en handleiding waaraan sy en haar mede-waardeprojek-lede die afgelope 18 maande gewerk het.

‘n vrou het in 1967 in ‘n kerk gesit en aandagtig na ‘n preek uit Jesaja 6:8 geluister: “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur en wie sal vir ons gaan?”

Op daardie oomblik het Marthella Pretorius geantwoord: “Hier is ek, Here, stuur my.” Uit dié geloofsoomblik is die Dameskring gebore, ‘n organisasie vir Christenvroue en wat daarop gemik is om vroue te inspireer en te bemagtig om hul gemeenskappe te dien en te versterk.

Vir 58 jaar al bevorder die Dameskring hul ses doelstellings: Christenskap, Afrikaans, Waardeprojekte, Vroue, Gesinne en Beursfondse.

Die Waardeprojek lê Elize Boshoff (70), ‘n afgetrede onderwyser en voormalige inwoner van Jacobsbaai, na aan die hart. Sy dien die afgelope vyf jaar as voorsitter van die Dameskring Waardeprojek se Vredenburg­tak en is onlangs as nasionale waardeprojek-­voorsitter verkies. “Die doel van die projek is om gesagsfigure toe te rus om die ‘neutrale netwerk’ in die ­kinderbrein te bevorder,” verduidelik sy.

Boshoff glo vas kinders is die sleutel tot ‘n gesonde, waardegedrewe samelewing.

Sy verwys na dr. Pieter van Jaarsveld se boek, ‘n Gelukkige kind, waarin hy skryf kinders se breinontwikkeling beïnvloed hul lewenslange gedrag en gesindheid in die eerste sewe jaar.

Met hierdie kennis as inspirasie het die Dameskring se waardeprojek oor 18 maande aan die ontwikkeling van die handleiding Waardes vir Woelwaters gewerk. Dié program is bedoel vir kleuters tot graad 3-leerders en fokus op Christelike en eties gebaseerde waardes, elk geïllustreer deur ‘n Bybelverhaal en kleurvolle prentjies.

Elke les bevat liedjies, stories, prentjies en selfs asemhalingsoefeninge wat deur fisioterapeute ontwikkel is. “Die asemhalingstegnieke help kinders om rustig te word, beter te fokus en angs te hanteer,” verduidelik Boshoff. “Ons het dit selfs tydens die Dameskring-kongres in Bloemfontein getoets, en die kalmte wat dit onder volwassenes gebring het, was ongelooflik.”

Sedert Oktober het vele skole reeds die Waardes vir Woelwaters-handleiding aangeskaf. Maar, sê Boshoff, dit is nie net vir skole bedoel nie. “Ouers, grootouers, versorgers, tuisonderrig en selfs nasorgsentrums kan dit gebruik. Dit is ‘n unieke manier om kinders tuis te onderrig, veral vir dié wat nie plek by skole kry nie.”

Die Dameskring bied gratis opleiding­sessies vir belangstellendes en doen assessering nadat die handleidings geïmplementeer is ten einde te verseker dat die lesse optimaal gebruik word.

“Kinders is ons toekoms en ons glo hierdie is ‘n Godgegewe projek,” sê Boshoff. “Deur kinders in hulself en in God te leer glo, bou ons ‘n toekoms van leiers met sterk waardes en geloof.”

Sy voeg by dat die kostes om die handlei­dings te druk en te versprei groot is, en dat borgskappe dringend benodig word om meer kinders te bereik. “Hoe meer kinders ons kan aanraak, hoe beter vir ons land se toekoms,” sluit sy af.

• Kontak Elize Boshoff by waardeprojek@dameskring.co.za

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 11 June 2026
    Weslander E-Edition – 11 June 2026

Gift this article