Met Jeugdag om die draai, is die Dansers van Weskus by die Weskusskool in Saldanha ‘n goeie voorbeeld van hoe jongmense hul potensiaal deur kultuur, dissipline en spanwerk kan ontwikkel.
Die dansgroep, wat op rieldans fokus, bied leerders van verskeie Weskusdorpe die geleentheid om hul talente te ontdek, selfvertroue te bou en terselfdertyd hul kulturele erfenis uit te leef.
Volgens die afrigters, Isabel de Villiers en Bianca Pruis, is rieldans deel van Suid-Afrika se oudste kulturele erfenis en het dit sy oorsprong in die Noord-Kaap. Baie van die leerders by die skool kom uit gebiede soos Clanwilliam, Lutzville en Vredendal, waar die dansvorm steeds ‘n belangrike deel van die kultuur is.
“Weskusskool wou ‘n platform skep waar elke leerder, ongeag hul agtergrond of hindernisse, die geleentheid kry om te groei, deel te wees van ‘n span en hul talente te ontdek,” verduidelik hulle.
Die dansgroep bestaan hoofsaaklik uit leerders tussen 14 en 18 jaar oud.
Vir baie van hulle is rieldans meer as net ‘n stokperdjie. Dit leer dissipline, verantwoordelikheid en spanwerk, terwyl dit ook emosionele groei en beter kommunikasievaardighede bevorder.
“Baie van ons leerders kom uit agtergeblewe gemeenskappe en die riel gee hulle ‘n gevoel van trots. Die erkenning wat hulle deur die dans ontvang, beteken baie.”
Wat die groep uniek maak, is hul fokus op die ontwikkeling van die hele kind. Die afrigters gebruik rieldans nie net as ‘n kunsvorm nie, maar ook as ‘n manier om kultuur lewendig te hou en jongmense hoop en doelgerigtheid te gee.
Hoewel die groep nog jonk is, is De Villiers en Pruis trots op die groei wat hulle reeds by die dansers sien.
‘n Groot hoogtepunt lê ook voor wanneer die groep in 2026 vir die eerste keer aan kompetisies gaan deelneem om groter blootstelling aan die leerders te bied.
Hul droom is dat die Dansers van Weskus sal aanhou groei en nog meer jongmense sal ontwikkel.





