Die Raad van direkteure van die Forum van Gemeenskapsjoernaliste (FGJ) het sy dank uitgespreek teenoor redakteurs, joernaliste en fotograwe van gemeenskapsnuuskantore oor Suid-Afrika heen, wie se deelname tot nóg ‘n rekordgetal inskrywings vir vanjaar se AVBOB-FGJ-uitnemendheidstoekennings gelei het.
Volgens die beoordelaars se sameroeper, dr. André Gouws, is byna 600 individuele inskrywings ontvang.
Die afdelings wat die meeste inskrywings ontvang het, was vir harde nuus, insluitend ondersoekende verslaggewing (78 inskrywings); voorblaaie (76) en mense-nuus (63).
Twee nuwe afdelings het ook sterk belangstelling gelok. Munisipale/plaaslike-regering-verslaggewing het 36 inskrywings ontvang, terwyl die Storie van die Jaar-afdeling 22 inskrywings gelok het.
Vanjaar se beoordelaarspaneel bestaan weer uit ervare bedryfskundiges.
Altesaam 23 kundiges uit die bedryf en akademie is op die paneel.
Gouws het bevestig drie beoordelaars is aan elke afdeling toegewys.
Die paneel sal die volgende vier weke gebruik om elke inskrywing deeglik te beoordeel, met die doel om seker te maak die beste werk in gemeenskapsjoernalistiek kry erkenning.
Die AVBOB-FGJ-uitnemendheids-prysuitdeling word op Vrydag 21 Augustus in Pretoria gehou, met die FGJ se nasionale seminaar dieselfde dag.
Opleiding by die seminaar gaan op die komende verkiesing fokus.




