Om jou bestuurslisensie te kry is vir enigiemand ‘n groot prestasie, maar om dit op 70 jaar oud te verwerf, is iets besonders.
Hierdie besonderse prestasie het Kobie Burger, ‘n inwoner van Saldanha, hierdie maand behaal.
Burger het haar man in 2024 aan die dood verloor en het besef sy sal meer onafhanklik moet wees wanneer dit kom by die afhandel van daaglikse take.
Sy het vantevore ‘n lisensie gehad, maar met haar man wat al die bestuurwerk gedoen het, het sy nie die behoefte gesien om haar lisensie te hernu nie.
Dit is egter in Januarie vanjaar dat Burger in aanraking gekom het met Melanie Meyer van Melanie’s Driving School en sê daar was onmiddellik ‘n goeie konneksie tussen haar en die instrukteur. Min het sy geweet dat dié konneksie later ook in ‘n hegte vriendskap sou ontwikkel.
Met lesse onder die leiding van Meyer, was Burger gereed om uit te paseer. Ná een of twee klein foutjies het Burger uiteindelik haar lisensie met die vierde probeerslag geslaag en met elke keer wat sy wou opgee het Meyer haar bemoedig.
“Sy het reg van die begin af in my geglo. Toe ek my lisensie kry, het sy seker hoër as ek gespring. Dit was net trane en blydskap toe ek die nuus ontvang dat ek geslaag het,” vertel Burger.
Meyer meen Burger het baie struikelblokke ervaar, maar het elkeen oorwin.
“Daar was baie tye dat sy net wou opgee, en daar was baie emosionele tye waarin ek haar moes motiveer en herinner het dat sy ‘n inspirasie is vir ander mense wat self ook sukkel om hul lisensie te kry. Dit het Ouma Kobie letterlik vyf maande geneem om haar lisensie te kry, en dit op haar ouderdom. Ek glo sy was gereed voor die tyd, maar onthou dit was net die Here se wil om te sê wanneer sy haar lisensie sou kry.”
Volgens Burger is ‘n mens nooit te oud om te leer nie.
Meyer deel ook dieselfde sentiment en sê as jy iets in die lewe wil hê moet jy alles insit en aanhouer wen. “Jy kan dit doen. Dit is nie altyd maklik nie en daar is struikelblokke, maar as Ouma Kobie dit kon doen op haar ouderdom sal jy definitief ook kan. Moenie eens twyfel nie,” voeg Meyer by.





