KYK | Bergrivier se watervlak styg in Velddrif: Bokkomlaan hou asem op

Bergrivier se watervlak in Bokkomlaan begin styg.

Die Bergrivier vloei sterk ná die onlangse reënval, met vissers en inwoners in Bokkomlaan wat reeds voorsorg tref vir moontlike stygende water gedurende die nag.

Stygende watervlak is reeds sigbaar in die vleiland van Velddrif.

Bokkomlaan, ‘n bekende toeristebestemming in Velddrif, bruis van bedrywigheid nadat die onlangse reënval in die Wes-Kaap die watervlakke van die Bergrivier merkbaar laat styg het.

Inwoners en besoekers het die afgelope paar dae saamgedrom om die sterk vloei van die rivier dop te hou.

Tydens Weslander se besoek op Donderdag 14 Mei het die rivier reeds aansienlik sterker gevloei. Sommige van die bekende visserhuisies langs Bokkomlaan het voorsorg getref met die pak van ‘n sandsakwal en seile in afwagting op moontlike hoër watervlak.

Sandsakke voor die Dagbreek-visserye in voorbereiding vir Bergrivier se stygende watervlak.

Volgens Dirkie Voges van die Dagbreek-visserye word verwag dat die watervlak in Bokkomlaan moontlik teen ongeveer 02:00 op Vrydag 15 Mei nog verder kan styg soos wat die vloedwater vanuit die Paarl in die Weskus aankom.

Kyk hoe lyk Bokkomlaan:

Bokkomlaan soos wat dit op Donderdag 14 Mei 2026 gelyk het. Video: Letitia Van Zyl-Schultz

Hoewel die rivier tans vol opdrifsels is ná die reën, sê Voges dat vissers steeds kan uitvaar. Hulle het vanoggend na Dwarskersbos vertrek om harders te vang, wat vir die maak van bokkoms gebruik word.

Dirkie Voges en sy span maak gereed om van Bokkomlaan af uit te vaar na Dwarskersbos.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 14 May 2026
    Weslander E-Edition – 14 May 2026

Gift this article