Die Velddrif-tak van die ATKV het die afgelope Vrydag (8 Mei) op ‘n glansgeleentheid by die Riviera Hotel ‘n Ukhondo-toekenning aan Antoinette Kellermann oorhandig. Die gesogte toekenning word aan persone toegeken wat uitsonderlike diens en bydraes tot die ATKV, Afrikaans, kultuur en gemeenskapsontwikkeling gelewer het, en word as een van die organisasie se hoogste eerbewyse beskou.

Kellerman woon reeds die afgelope agt jaar in Velddrif en is deur die ATKV se Velddrif-tak vereer vir haar uitstaande bydrae tot die Afrikaanse kuns- en vermaaklikheidsbedryf.
Sy is bekend vir haar werk in teater, televisie en radio, en haar volgehoue bevordering van Afrikaans en die uitvoe- rende kunste. Buiten haar werk op die verhoog, dien sy ook as mentor, beoordelaar en ondersteuner van jong talent in die Suid-Afrikaanse kunstewêreld.
Op die geleentheid het Kellerman haar eenvrouvertoning, Hulle woorde, my stem, gelewer, ‘n aangrypende samestelling van gedigte, verhale en tekste van groot Suid-Afrikaanse skrywers, waaronder Antjie Krog, Dot Serfontein en Breyten Breytenbach.
ATKV Velddrif se voorsitter, Alan Dreyden, het die verrigtinge geopen, gaste en eregaste verwelkom, en namens ATKV Nasionaal gesê dit is ‘n voorreg om Kellerman in Velddrif te hê. Hy het haar as ‘n ikoniese Suid-Afrikaanse aktrise en doyenne van Afrikaanse teater beskryf.
Kort ná die bediening van die voorgereg het Kellerman die verhoog betree en die gehoor in verwondering gelaat met haar vermoë om die werke van die drie groot literêre stemme met suiwer, gevoelvolle Afrikaans te vertolk.

Sy het onder meer verwys na Breytenbach se bekende gedagte dat die wêreld nie ons woning is nie, en die beeld van ouma en oupa op die stoep gebruik om ouderdom te beskryf as ‘n gawe om die wêreld se skoonheid net een keer ten volle te beleef.
‘ek bou vir my ‘n land . . .’
Uit Antjie Krog se werk het sy onder meer aangehaal: “Kyk, ek bou vir my ‘n land waar ‘n vel niks tel nie . . .” en ook die gewaagde liefdesreël “Ek wil langs jou in die veld lê sonder om in die kerk ja te sê”.
Sy het verder die verhouding tussen Antjie Krog en haar ma, Dot Serfontein, belig en genoem dat hulle ‘n unieke literêre moeder-dogter-stem gevorm het wat elk op eie wyse ‘n merk op Afrikaans gelaat het.
“Jy moet poësie maak oor die dinge rondom jou, gedigte besoek jou op vreemde tye en dan moet jy gereed wees met potlood en boek,” het Kellerman ook gesê.
“Gedigte is die litteken van jou tong wat Afrikaans proe, om te skryf is om kuns in woorde om te sit. Woorde wat lag, sny, troos en onthou.”
Met lag-uit-die-maag-oomblikke tot diep stiltes in die saal was die vertoning ‘n kragtige viering van die Afrikaanse woordkuns en die skrywers wat die taal vorm gee.
Deon Meiring, Wes-Kaapse musikant en liedjieskrywer, het ná die vertoning vir musiekvermaak gesorg, waarna Felicity Ströhfeldt van die ATKV Velddrif-tak ‘n oorsig van Kellerman se loopbaan gegee het.
Ströhfeldt het haar as ‘n kampvegter vir Afrikaans met ‘n loopbaan van langer as 50 jaar beskryf, en beklemtoon dat sy in 2012 haar meestersgraad in drama Cum Laude voltooi het.
“Sy dra die vaandel van Afrikaans hoog,” het sy gesê.
Die Ukhondo-toekenning is daarna deur Sonel Brits, besturende direkteur van ATKV-MSW, aan Kellerman oorhandig.

In haar bedankingstoespraak het Kellerman gesê sy het pas van die Suidoosterfees in Kaapstad teruggekeer en die ATKV bedank vir hul volgehoue ondersteuning van Afrikaanse kunste.
Sy het haarself as ‘n introvert beskryf, maar gesê sy is trots op Velddrif en op Afrikaans wat op soveel kreatiewe maniere voortleef.
Alan Dreyden het die aand afgesluit met ‘n woord van dank aan almal wat die geleentheid moontlik gemaak het, asook aan die Riviera Hotel vir die driegangmaaltyd. Hy het gaste aangemoedig om by die ATKV aan te sluit, en te ondersteun in hul werk om Afrikaanse kuns en kultuur te bevorder.

Die vertoning Hulle woorde, my stem sal lank onthou word as een van die hoogtepunte op die ATKV Velddrif se feeskalender.





