Kinders maak moeilikheid, daag grootmense in Boswewer, Vink-en Sproeistraat uit en is dag en nag blatant onbeskof. Hulle sit elke dag by die dragons en pla mense, gaan soek nie werk nie, en van hul ouers is bewus van hul doen en late.

Ons is nie meer veilig nie omdat hulle sulke klein maar “sterk grootmanne” is. As hulle nie moeilikheid soek by die skole nie, gaan hulle in Hopland ook so aan. Ouers versterk hul kinders in hierdie vieslike gedrag en mentaliteit. Ek dink daar moet drasties opgetree word teen hierdie kinders, want hul ouers, ooms en neefs wat groot is en ‘n verstand het, kom ook om moeilikheid te maak, terwyl hulle met die mannetjies moet sit en praat oor die regte dinge in die lewe.

As die polisie by die kinders kom, is hulle kamma onskuldig, maar reageer ook soos grootmanne wanneer hulle met die polisie praat. Sodra die polisie hulle verlaat, word daar ‘n bespotting van die polisie gemaak en gaan hulle net weer voort met hul lelike maniere.

Ons is elke dag naby die kragboks en sien hoe die kinders alles uit verband ruk. Hulle gebruik vuiltaal voor grootmense, asof dit niks is nie. Die ouers wil nie die goed wat hul kinders doen, aanhoor nie. Met die kinders se manier van dinge doen, sien ek nie die minderjarigheid in hulle nie. Hulle sal dan nie eens meer skrik om iemand dood te maak nie.

Wat sê die gemeenskap? Wat moet ons doen om hierdie gewoontes van die minderjariges uit die weg te ruim?

Dit kan jou of my kind wees wat seer kan kry of tronk toe moet gaan. ‘n Voet moet neergesit word en die gemeenskap moet saam opstaan teen sulke gedrag deur kinders. Genoeg is genoeg.

Inwoner

Louwville

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 7 May 2026
    Weslander E-Edition – 7 May 2026

Gift this article